Month: April 2014

Klinkende metaal

IMG_4805
Die Wharfedale Press

Eerste jaar joernalistiek kursusse bied nie veel nie. Basiese begrip van artikels, uitputtende lesings oor etiket en wet en einaardige studente wie hulle opinie in jou keel probeer af forseer.

Vir ‘n verandering, bied die tweede termyn ‘n interessante ekspidisie aan. Ons, as studente, moet dapper af stap in die beroemde High Street, ‘n systraadjie vind en aanklop by die Eastern Star Press museum.

Ek is teen die tyd goed uitgehonger vir enige vorm van avontuur in my hoofvak. Ek gryp my notaboek en pen, laai my kamera se battery, en soos ‘n uitspattige student tree ek Grahamstad binne.

Ek was, ten minste, ‘n halfuur te vroeg.

‘n Gemaklike man van omtrent vyftig antwoord die deur. ‘n Los T-hemp en olie gevlekte denim laat my wonder oor hierdie klaas. Hy sluit die hekkie oop en nooi my binne. Met my eerste tree is ek oorweldig met die reuk van staal en olie. Nostalgie glip by my neus in en gaan lê saggies in my hart. Ek verlang na my pa en sy fabriek. Die houtplanke kraak onder my skoene. Ek loop stadig en suutjies. Ek wil elke oomlik wat ek hier is, inneem.

Die Wharfedale Press staan in alle glorie voor my. Ek wens my pa kon die rou ingeneurswese van die magtige masjien sien. Die vreemde klaas verander eweskielik in ‘n wyse kêrel in en babbel oor die hoe en wat en waar van hierdie drukker. Hy gee ‘n effense glimlag voor hy die drukker aanskakel. Met een slag is daar ‘n gesus van ‘n lap-band wat draai in die agtergrond terwyl die metaal soos klinkende simbale in my oordrom slaan. Soos ‘n klein kind staan ek met groot oë en lag oor die opwindenheid van die gereedskap wat voor my aan die werk spring.

Ek weet nie wat om te voel nie. Adrenalien oor die drukker wat voor my lewendig word. Verligting dat ek eindelik iets interessant geleer het. Nostalgie vir my pa wat te ver is om hierdie te beleef. Dalk blydskap dat ek ook ‘n plek gevind het waar my pa in is.

D.J Opperman het vergeet om ‘n gedig vir die mans in my lewe te skryf. Om so ver weg van die huis af te wees, vind mens iemand in elke ding en geur om die knou van verlange te verminder. My ouma is in ‘n giggel, my oupa in houtmeubels. My ma is in Laurika Rauch lirieke en my pa is in ‘n koerant museum wat klinkende metaal en olie ‘n huis gee.