Konkreet


Hy syl deur. Die oggend dou tref sy gesig met ‘n krampende klap. Die muur voor hom het ‘n graffiti litteken van rooi en groen. Hy gee ‘n sug van geluk- die eerste ding wat hy vandag sien is kleur: ‘n geluk bringertjie.

Hy trek gister se klere versigtig uit sy rugsak uit. Hy plaas dit sorgvuldig langs die gat neer. Die wind van die karre help darem om dit vinniger droog te kry. Voel-voel gly sy hande oor sy gesig en hy besluit om nog ‘n dag sonder skeer te gaan, maar hy sal vanaand moet plan maak. Die lemmetjies is effens geroes en die polisie word agterdogtig as mens so lank staan en staar in ‘n winkelvenster in.

Sy bo-lyf is kaal en die jong studente gaap hom aan van uit hulle motors uit. Hy draai vinnig om. Hy trek sy knopies hemp aan en steek dit in sy denim in. “Ek het seker gewig verloor”, dink hy aan homself terwyl hy sy belt vasmaak op die laaste gatjie. Sy hare hoef hy nie te kam nie, sy gesig sal hy gou voor werk kan was.

Hy vou die oranje Sappi-sak oop en gaan sit om sy skoene te poets. Sy mond vorm ‘n tuit en ‘n spoegie val op elke skoen terwyl sy hand eentonig vryf-vryf. Die nat sokkies brand sy koue vel. Een vir een syl sy voete deur die opening en hy trek die veters styf.

Die verkeer word besiger. Die groot horlosie van ‘n klein bruin en swart kar laat hom skrik. Hy pak weer vinnig sy rugsak in en draf by die straat af.

Hy syl deur die karre en loop verby ‘n stalletjie. Ontbyt.

“How much?” Vra hy vir die vrou wat die skyfies uitpak en haal ‘n paar sente uit. Hy vat die pakkie terwyl sy die sente tel en sy kleingeld terug stoot.

Twee strate af en hy voel die koue van die wind wat by sy broekspyp inglip. By die petrolstasie glip hy vinnig by die badkamer in en was sy gesig. Sy kollega het gesê om hier te wag, hy sal hom daar ontmoet. Sy voet stut hom teen die klam muur. Hy wil ‘n wyle dut- die vroeg-oggend is altyd vir hom die langste tyd van die dag. Maar MJ kom oor die pad aangedraf. Hy steek sy hand uit en kry ‘n vriendelike handdruk.

Hulle loop weer die badkamer in en MJ haal die potjie wit verf uit. Stelselmatig vryf hulle die verf oor mekaar se gesigte. “Moenie beweeg nie,” raas MJ, “anders kraak die verf.”

Hulle loop uitdrukkingloos by die badkamer uit en af in die straat in. Die son begin skerp reflekteer teen die hoë glas geboue en verblind hom elke nou en dan. Uiteindelik vind hulle ‘n oop verkeerslig net om die hoek van die Universiteit.

Die lig slaan rooi. Hulle kyk na mekaar maar glimlag nie. Die verf moet heeldag hou.

Hulle klap twee keer en begin hulle dansie. Na ‘n paar kere werk hulle die tyd van die verkeerslig uit  en sny die roetine met ‘n paar sekondes sodat hulle nog rondtes verby die karvensters kan maak.

Party glimlag en gee kleingeld. Ander trek hulle skouers op. Baie kyk net stip voor hulle uit terwyl die motors al kwaaier brom, tot die lig groen slaan en die wind weer verby waai van die vinnige versnelling.

Vanaand kruip hy weer terug. Tot die eerste lente reën neerval en sy slapende-lyk stadig by die waterdrein laat uit syl.

Môre oggend soek die gapende studente na die man sonder die hemp, maar hy is nêrens op die straat te vind nie. Die lig slaan groen en hulle snel verby die rooi en groen “freedom” graffiti vir nog ‘n dag van lesings by Wits.

 

 

Advertisements

3 thoughts on “Konkreet

    1. Dankie dat jy klaar gelees het, ek self is nie een vir onstellende verhale nie. Maar toe ek nou in Johannesburg was, het ek ‘n paar onstellende dinge weer herken.
      Dankie vir die volg 🙂

      Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s