Month: August 2014

Blou maan aande

Voel die wasem van die maan se wind. Kyk op en sien die sekelmaan wat druppeltjies reën vang. Ver langs die rand van die aarde kruip sterre weg wat in verlede tyd lewe. Die goud groen blare wink jou nader; daag jou uit om op te klouter en te kyk. Kyk na die asem van die wêreld. Die wêreld se geheime wat in ‘n holte versteek is. Niks maak saak nie. Niks behalwe die hartverskeurende vreugde wat jy vind as jy die grys boom klim nie.

Die boom. Groei op groei op groei. Die grond wat die saadjie so mooi koester. Stadig groei die wortels, die takkies, die bloeisels en groei en groei tot die jare die bas na grys verkleur en mos stadig inkruip en lewe op die lewe van die boom.

Kyk om jou rond en sien. Sien die prag van die berge, die mag van die branders wat klippe verskeur en saggies neerlê op die strand.

Haal asem. Voel hoe die koue lug jou longe verfris. Die groen van lente jou siel laat skitter. Klim die berg en voel die pyn van die uitdaging deur jou spiere strek en vervul met ‘n borrelende uit-die-maag-uit lag.

Wees. En wees voluit. Sonder twyfel, sonder skroom, sonder spyt.

 

 

Stuur groete aan my kinderdae

Tyd het al eeue se oefening in. Tyd het al die vaardigheid van opkruip bemeester.

Eendag is jy ‘n klein dogtertjie wat grootoog sit en kyk vir tieners in die hoop dat jy ook so mooi sal wees. Die volgende dag tik jy ‘n huldeblyk aan jou lewe- vir dit wat jy geword het: ‘n groter dogtertjie wat grootoog kyk vir vrouens in die hoop dat jy ook so mooi sal wees.

Maar vandag tik ek graag ‘n huldeblyk aan Verna Vels.

Ek kyk liewe heksie episodes en vind die spot-huil geluide van my ma in die eerste hoofstuk. Die simplistiese prente van klei en verf met die basiese lewenslesse opgesom in nege minute en vyf-en-twintig sekondes.

Tannie het die slapenstyd stories geskryf. Ure van dierbare tyd aan ouers en kinders geskenk. ‘n Klasieke liedjie geskep wat vasgesteek in my geheue sal bly- wat ek ook eendag vir my kinders sal sing.

Ek was geleer dat ek nie ‘n lui katjie moet wees nie, dat vriendlikheid altyd beloon word, om die beste te maak van ‘n afgewaaide dak- en dit net in die eerste episode.

soet rus Tannie Verna, stuur groete aan my kinderdae.

Pruil hier, pruil daar, pruil deurmekaar

Woord vir die week:

Pruil,ge-. Ontevrede wees, dikmond wees, mok.

Dit was een van daardie weke waar die son se strale winter in somer laat verander binne enkele ure. Met witte bene, vrolike frokkie en ponie-stert sit ek toe die week al trippelend na. Grahamstad het my vir eens opgekikker.

In en uit weef ek deur my lesings. Selfs die onverstaanbare dosent was hoorbaar. ‘n Pienk bloeisel groei nog al te mooi hier in ‘n wynglas op my vensterbank. ‘n Letsel van winter- dan is winter inderdaad nie so sleg nie.

My gesondheid was indrukwekend die winter, nie eens ‘n kuggie nie.

Maar hier lê ek… soos ‘n bloeisel wat verlep nog voor sy tyd werklik begin het. Die bed is gestrooi met sneusies. Die gemmertee proe soos suiglekkers en suiglekkers proe soos Vicks.

So vandag is ek pruilerig. Ook huilerig- want ek wens ek was gesond.