Dankie aan my droom.

Daar is ‘n pers boom buite my koshuis venster. Natuurlik is dit daardie verpeste plesier van ‘n Jakarandaboom. Dié een herinner my aan ‘n Fanta-grape suigstokkie wat ek en my broer altyd gaan koop het by die vakansie-oord in Ballito se snoepwinkel.

Die afgelope paar dae was winderig en goor met enkele donderstorms oor die heuwels van Grahamstad, so die ou pers blommetjies lê en wag vir die verlep om hulle te oorval so op die grys teer.

Al wat ek kan doen is sug. Want soms lyk ‘n boom so grys en dood en dan, oor ‘n paar maande, kom die son uit en voed die vlerke van die takke wat dan bloei van al die sonbrand se skade. Ja, die boom bloei en die allermooiste pers klokkies kondig met eens die koms van Kersfees aan.

So opgewonde soos ek is om voltyds Afrikaans te kan studeer volgende jaar, sonder die gesukkel van verlate departemente met ou dosente wat nog vashak by die grensoorlog, is my hart Laurika Rauch-nostalgies oor die mense wat ek ontmoet het. Ek sê Laurika Rauch-nostalgies omdat haar musiek my altyd herinner aan daardie ‘een glas te veel sondae middae’ waar almal so stil raak en diep dinge uitsorteer met God.

Grahamstad word stiller en koffiewinkels sluit vroeër soos die studente een-vir-een terug huis toe suipel. Die eetsaal bestaan nou uit enkele dooies wat in en uit beweeg uit gewoonte. Ek trek elke dag nog ‘n herinnering van die muur af, gooi die Prestik weg; pak nog ‘n boks. My male is halfpad tussen hier en Johannesburg oppad. My laaste ure word onder magiese bome spandeer waar swaeltjies my kwik met hulle stertjies. En ek stuur groete aan vriende wat die pad vat na hulle verskeie lande toe- ja, lande.

Ek probeer ook desperaat kleef aan kinderdae en hoërskool maats. My broer kry sy graad, gaan op sy eie Ballito vakansies hou en eweskielik word die pers suigstokkie bietjie valer, die golwe se klank effens verder en die kersliggies wat oor die township skyn effens absurd.

Ek stuur nou groete aan my eerste droom wat ek na uitgestreef het- volhard en met al die moed wat ‘n 18 jarige kon. Aan na die volgende Universteit, stad en droom- net soos die wolke weer toe trek bo my.

Dankie, Grahamstad. Tot wedersiens.

Advertisements

Joe Niemand sing vir ons vanaand ‘n brokkie hoop hier op  WordPress se eie radio stasie. Wraggies, kan jy nou dit glo? Net hier, waar almal wat iets uitstel vergader en nonsensies skribbel op ‘n leë blad.

Nou ja, so gesê, hier is die man met Genoeg is Genoeg.

Geniet dit, en skakel weer in aanlyn wanneer jy graag ‘n lied of twee wil luister net om daardie 2 minute voor die volle 19:00 om te kry, sodat jy op ‘n gelykke nommer jou taak kan begin.

Lekker aand.

Die koek, koffie en klavier van ‘n enkellopende.

 

 

Die eerste liefde was blond met hazel-bruin oë. Hy kon sing en kitaar speel en het ‘n moeilike verhouding met sy ouers gehad. Die tweede was een van daardie 2-maande, ” ek hou uit want ek kry jou jammer” verhoudings. Die derde was nooit as ‘n verhouding verklaar nie, want vir ‘n graad 11 seun beteken hierdie woord heeltemal te veel verantwoordelikheid. Hy was ook blond. Die keer met blou oë- maar daar was geen kitaar nie. Net ‘n ego. Tog was ons ‘saam’ vir omtrent 2 jaar.

TV reekse het altyd streng pa’s gewys wat kwaai vir hulle dogters verbied om ooit te date voor die ouderdom van 16. My ouers was al te veel vermaak deur hierdie tienerliefde van hulle dogter om daardie reël te implimenteer. Binne twee weke van ‘n verhouding het ek gewoonlik stil by die kombuis ingesluip en langs my ma gaan sit. “Mamma, hy irriteer my.” Dan skud my moederlief maar net weer haar kop. Want sy weet vir die volgende maand of twee gaan ek terug kom van die skool af met nuwe irriterende stories om haar te vertel- te bang om hulle te sê hoe ek voel.

Mens kyk dan maar romantiese flieks en word net meer geirriteerd omdat die kêrel nie Channing Tatum is nie. Óf jy huil jou oë uit in spontane tye wanneer jy die skoene aantrek wat jy saam hom gekoop het. Foei tog.

Maar hierdie jaar het iets verander. Buiten die feit dat ek nie meer ‘n skolier is nie, was ek die afgelope jaar ook so te sê “enkellopend”. En wat ‘n jaar was dit nou nie.

Vir eens in my lewe kan ek alleen in ‘n koffiewinkel sit met ‘n groot stuk sjokolade koek en ‘n koffie gemaak deur die hande van ‘n nationale Barista-kampioen. Oe- ek proe al klaar daardie skuimpies wat so soet op my lippe lê. Vir eens kan ek voor ‘n klavier sit en net speel, sonder om eens te probeer om mense te beindruk. Musiek studente se Bach sal altyd beter wees as my spontane rympies wat ek daar sit en opdink in elkgeval.

Dit is werklik ‘n verlossing om net te kan loop in die strate van Grahamstad met ‘n koel reëntjie wat my besproei. Die soet Jakaranda’s te kan ruik. Nie geheg aan my foon te sit en elke woordjie in die sms te ontleed nie.

Moet nou nie verkeerd verstaan nie!

Dit is noodbelangrik om deur nuttelose verhoudings te gaan wat nie uitwerk nie. Om dronk-verlief om iemand se elke woord te hang. Te droom oor feë-verhale van die man wat jou hand kom vra by jou pa en sokker kyk saam jou broer. (In realiteit gaan jou broer hom tienteeneen nooit waardeer nie, en jou pa altyd effens skepties wees oor die knaap wat sy dogtertjie kom steel.) Dit is noodbelangrik om deur daardie dramatiese liefde te gaan sodat jy ook eendag alleen in die straat kan afstap en jou eie geselskap innig kan waardeer.

As dit nie was vir al daardie koffie-dates nie was ek nou nog nie seker wat ek van hou as ek so op die spyskaart loer nie (Dubbel Hazelnut Cuppachino- net so vir toekomstige liefdes wat hierdie dalk lees). Ek sou ook nogsteeds eindeloos probeer om almal se aandag te trek. Die gesukkel elke oggend om hare eksie-perfeksie te kam. Dalk bietjie grimering op te plak- maar net genoeg om te voorkom dat die onderwysers dit sal raaksien. Ek sou nogsteeds my woorde tel. Probeer om daardie misterieuse meisie te wees (ek aanskou myself as verskriklik eenvoudig en uitgesproke).

10714582_10202769751466799_2152709916208260090_oI <3 Nutella

 

Nou is ek in ‘n proses van “wording”. Ek word. As daar werklik so iets is. Ek, my koffie, koek en klavier kan mekaar vermaak en geselskap hou tot die einde van hierdie self-verhouding. Tot eendag wanneer daardie knaap van die Kaap aan my deur kom klop en my iets kan vertel wat ek meer interessant vind (‘n cuppachino in die hand sal ook werk met die woo-ing aspek).

Hier is ‘n dramatiese liefdes lied. Vir die heimwee van eensaam wees. Foei tog.

 

 

Jakarandastad

Oupa’s se boekrakke is altyd indrukwekend. Skraal van boeke en tog vind mens se hande altyd ‘n boek of twee wat tot nou toe jou hande vermy het.

Op ‘n dag- na ek deur die verskeie skoendose vol ou kiekies gekyk het, ontdek ek ‘n vaal ou groen hardeband boekie. ‘n Ene Audrey Blignault se naam is fyn ingedruk op die voorkant met ‘n eenvoudige voëlhokkie as illustrasie. Natuurlik kan my taal-liefhebbende hande nie dié boek vir langer vermy nie. Suutjies gaan sit ek op Oupa se rusbank- daardie een langs die draadloos wat so lekker sag gesit is. My hande gly oor die growwe materiaal. ‘Die Vrolike Lied’.  Selfs die titel is opwindend.

Die eerste verhaal vertel van ‘n Amanda en Johan wat deur die strate van Pretoria ry terwyl klein pers Jakaranda blommetjies saggies neerval op die silw’rige straat. Jakaranda beteken ‘vrolike lied’, laat weet sy ons graag.

Een van die redes hoekom ek juis dié Universiteit gekies het is in ‘n hoop dat die pers van Rhodes ook my vrolike lied sou verseker. Ek het natuurlik ‘n groot verbeeldingsryke droom gehad dat ek ‘n suksesvolle joernalis sou word- net om hier te besef joernalistiek is baie meer as net mooi stories skryf. En ek is toe nooit een wat veel hou van die limelight nie.

Daarom pak ek my tassies in ongeveer 2 weke. 2015 merk die jaar waar ek Pretoria toe trek op avontuur na die stad van vrolike liedjies om Afrikaans verder te studeer. Engels, Zoeloe en Duits ook. Nagraads hoop ek vir ‘n Honeurs in Afrikaans of Multimedia, en ‘n lekker ou onderwys diploma: want kinders is vrolike note wat my bladmusiek van ‘n lewe net kan verbeter.

In alle eerlikheid gaan ek Grahamstad mis. Die onvoorspelbare weer minder as die vriendinne en vriende wat ek die afgelope 2 maande gemaak het. Tog weet ek- tenspyte van die vriendskap wat ek eindelik ontdek het in hierdie afgebakende wêreld- kan ek nie alles swot wat ek so groot passie voor het nie.

Okay in volle eerlikheid verlang ek te veel na die familie van my- en miskien is klein dorpies nie so sprokie-agtig soos elke GetAway dit laat klink nie.

En wie weet wat God in my meesterstuk ingewerk het. Hy is heel onvoorspelbaar- net soos my Oupa se boekrak. Dalk vind ek ‘n hoofstuk of twee wat alles heel harmonies konnekteer.

Tot dan sal ek my vrolike lied self begin speel. Dit gesê, die Musiek Departement, het ek onlangs ontdek, laat mens toe om te tokkel op die Grand Piano wat in al sy glorie in ‘n klankdig kamer staan.

Ah! Studeer vir eksamen? ‘n Vinnige Mozart het nog nooit enige skade gerig nie. Het dit…?

 

Liewe land!

Ek sou graag ‘n hele debat wou hê. Opstelle skryf en indringende navorsing oor statistieke doen. Ek sou graag vir u ‘n hele paar voorbeelde opnoem van verskeie nasies; pragtige fotos neem en u stap vir stap wys hoe mooi die land is. Maar musiek praat veel harder as wat ek ooit sal kan. Note wys ‘n mooier beeld as wat enige NatGeo-Wild fotograaf ooit sal kan neem.

Daarom sê ek eenvoudig die:

Wie en wat bepaal sukses en ontwikkeling werklik?

Die ekonomiese welstand- of die diverse kulture en tale wat in een land soos een nasie kan leef?

Hier is ‘n video waar ‘n paar seuns dit heel mooi beskryf in hulle stemme. Nog beter as dit: loop af in die straat en sien elke siel wat sukkel maar nogsteeds nie in opstand teen mekaar gedraai het nie.

WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: