Month: December 2014

Naweek nuus en daar trek die nostalgie

Stelselmatig het ek verander. Kan jy jouself indink dat die uitserste peins van nostalgie waarmee ek ‘n maand terug nog geworstel het, nou ‘n blote groet van die hand neem om totaal af te skud?

‘n Jaar gelede sou ek spring vir die uitnodiging om te gaan kuier in ‘n kroeg- net omdat ek nog nie, volgens wet, mag gedrink het nie. ‘n Uiterste rebel, vertel ek jou nou. Vandag vind ek myself naweke Dalene Matthee boeke en Nataniël se ‘Kaalkop’ lees. Ek verpes die wyn wat ek laasjaar so gulsig gesluk het, boonop vind ek die (poging tot) straatnaam verandering ‘n desperate gesukkel deur mense wat nogsteeds nie ‘n enkele kulturele tradisie óf historiese verhaal êrens in hierdie diverse land op ‘n bordjie gegrafeer het nie.

(Plaas maar die oë-rek en inasem hier)

Nee, nee. Ek keur nie dié verandering goed nie. Daar was dan ‘n totale ramp van verdwaal wat ek ook deur moes gaan in Tshwane- of is dit Pretoria- se strate.

Wat ek wel nie verstaan nie is Johannesburg se groot poging om hierdie eksklusiewe buurte te bou. Was jy al in een? Mooi gerangskikte strate met huise so eenders soos Dr. Seuss se “Cat in the Hat” verhaal. Klein suigstokkieboompies groei heel prettig in besproeide tuine. Kinders loop veilig na die Privaat Skool wat strategies in die middel gebou is. Daar is ook ‘n winkelsentrum oor die pad met ‘n uitgebreide Woolies vir die Tannies in die SUV’s

.

As mens wel verby dié buurt ry en die volgende afdraaipad vat, ry jy diep tot in die slaggate van ‘n township sonder water, dakke en heinings. Kan jy nou meer? Onbeskaafd word die mense wakker in die vroeë oggendure en maak die grootste lawaai al die pad tot by die gesogte huise. So sonder hulle suigstokkiebome waag hulle nog om al laggend die buurt wakker te maak.

Intussen word kinders al dommer in die skoolstelsel- blammeer die onderwysers, hulle verloor belang in hulle vakke. Ook die kinders- hulle bank die wiskunde klas.

In verdere naweek koerante vind ek ‘n klein-ou artikel oor Eugene Marais. Dié het blykbaar Raggeltjie de Beer se verhaal opgedink en was Herman Charles Bosman se pa. Nie te min. Darem word daar nog gepraat oor Afrikaans wat my kulturele vooruitgang verseker. Nataniël was ook weer snaaks.

Ek sonder my af van die ‘white-guilt’ teorie nadat my een (swart) tutor gesê het dit is onnodig- ras is ‘n blote konstruksie om die dieper probleme te verberg.

Maar daar is hoop. As ék die situasie kan sien, is almal al lankal ingelig.

Ek plaas weer ‘n opkikker video of foto of so. Die was uiters diep vir ‘n Sondag.

Advertisements