Van vrou word en wees

Meeste van ons was al daardeur. Daardie eerste, vreesaanjaende… bordjie kos wat jy self  moes maak. Inderdaad, self!

Vanaand, toe ek so oor die kospotte spook en die gebrande pan skrop het ek mooi nagedink aan die simboliek agter hierdie nie-mamma-se macaroni en mince.

Skillet Cheesy Chili Mac

Ek het eers die plaat, so klein soos wat hy is in my “tuinwoonstel” se “tuinwoonstel-grote stoof,” aangesit. Toe het ek die pot en die water tot kookpunt gebring en eindelik die koppie (te veel vir een) macaroni ingegooi. Toe dié amper gaar was het ek die uie en knoffel in ‘n bietjie olie gebraai en my mince by gesit. Net-net het dit begin grys word, toe gooi ek ‘n bietjie tamatiesous en water by. Hmm, al te smaaklik.

Laat ek julle ‘n geheim vertel, ek het élke díng nes my Ma gedoen. Elke aand het ek haar aangegaap terwyl sy die potte laat kook, die kaas rasper, die mince in warm water ontdooi- die ware Jamie Oliver van Afrikaanse tannies. Maar hiérdié dis van mý het een bítter smaak agtergelaat.

Nee dit was nie die uie wat ek dalk te lank gelos het nie. Ook nie die hoop vetterige skottelgoed in die wasbak nie. Nee…dit was doodeenvoudig die werklikheid van grootword.

Dit is soos daardie aaklige skok wat mens kry as jy eendag in die bad lê en besef… daardie sexy, curvy bene wat jy as dogtertjie begeer het, lê nou styf hier om jou gepak en verhoed enige beweging buiten dril.

Net enkele jare terug het ek gedroom oor die vroue-lyf wat ek eendag rond sal swaai. Met elke draai ‘n ander roosgeur wat my ontsnap en almal se dag opkikker. Maar hier staan ek dan, duidelik in ‘n vroue-lyf, met hulp van ‘n parfuum is daar selfs so bietjie roos êrens in ‘n holtetjie.

En nou wens ek só vir die dae waar ek mý dogtertjie leer oor geheime kostruuks- maar in ‘n oogwink sal ek oor die skottelgoed staan wat eweskielik vermeerder het met 4 borde en terugdink aan my studente dae waar ek self die dinge moes ontdek.

Binnekort sal ek weet hoe om te vat sodat ek die kosblik blitsvinnig aanmekaar kan slaan. Ek sal onthou om die vleis uit die vrieskas uit te haal, die geyser aan te sit, die verdomde asblik uit te gooi en miere vroegtydig dood te maak. Ek sal die Sarie lees, RSG sal Laurika Rauch CD’s vervang en fiks wees sal ‘n uitsondering word.

Al hierdie dinge sal ek in my boekie kan opskryf, net ná opgestopte bene en melk koop by die garage.

Ek is geen feminis nie. Maar my magtag, môreaand drink ek wel ‘n glasie wyn op vrouwees. Hier is ook een van daardie diep gedigte.

      Antjie Krog

   ek staan op ‘n moerse rots

ek staan op ‘n moerse rots langs die see by Paternoster
die see slat slingers in die lug
liggroen skuim
onverskrokke kyk ek elke donnerse brander
in sy gut voor hy breek
die rots sidder onder my sole
my bo-beenspiere bult
my bekken smyt die aangeleerde gelate knak uit haar uit
se moer ek is rots ek is klip ek is duin
helder sing my tiete ‘n koperklepgeluid
my hande pak Moordbaai en Bekbaai
my arms skeur ekstaties bo my kop:
ek is
ek is
die here hoor my
‘n vry fokken vrou

Advertisements

Kappertjies in my voortuin

Kappertjies

Daar is geen geheim dat ek behep is met Laurika Rauch nie. Ek blammeer dit op haar strelende mamma stem wat mens so tot ruste toe kan sing.

Op so stil oujaarsaand in Johannesburg, my Ma aan die kook, pa êrens voor ‘n skerm en ‘n donderwolkie wat dreigend in die agtergrond wriemel, sit ek haar CD in. So toepaslik vir die feestyd speel “‘n Sonneblom uit Bethlehem”. Langs die radio is ‘n houdbankie met rieme wat my Oupa nog ingeryg het. Ek sink weg in ‘n kussing en kyk uit op ons voortuin. Alhoewel daar nie kappertjies daar groei nie, dink ek dié tuintjie sou heel uitgevat gewees het in ‘n oranje frokkie of twee.

Johannesburg aande, so in Desember, het altyd ‘n vreeslike peinsende effek op ‘n mens. Kersfees ook. Dit is seker die reën wat intussen saggies kom klop aand die voordeur en herinner aan Sondagskooldae, toe tannie Pop nog verduidelik hoe die kindjie Jesus so aan jou hart kom klop.  Dié stormpies kom altyd so sonsaktyd- net vir ‘n ou verkoeling. God weet dat die hastige miere wat in die vergrysde stad sit hierdie tweede asem benodig.

Ma maak Nataniël se ” ongelooflik lekker, gemorslose sien-ek’t-jou-gesê-daar’s-hoop-sitruskoek” en die Gammon se reuk bring ‘n kleinkindjie opgewonde vir Kerfsees. Of ten minste vir ons magies.  Ma ma se stem vloei op die naat van die musiek ‘n sarkastiese noot ” Johan, soek jy ‘n Whiskey?”

Johan, die Pa, skarrel vinnig in die kombuis in en gooi met liefde vir sy hartelief ‘n Whiskey en soda in, gee ‘n soentjie op die wang en nog voor my Ma ‘n storie kan begin is hy weer vlugtig voor ‘n skermpie. Salig.

In die sitkamer gloei die kersfeesboom liggies vlou, persente lyk kleiner elke jaar en na ete slyp almal moeg slaapkamer toe. Almal probeer dié oggend laat slaap, al laat tradisie dit nie toe nie. 8 uur sit ons in die kerk en die Dominee preek oor Jesus as geskenk uit Bethlehem spesiaal vir ons, sy kinders. Vir ‘n verandering sing ons Koos du Plessis, die orrel nog kraakvars op dié vroeë oggend. Genadiglik was die voorsang tantes afgegee- vir die feestyd, jy weet?

Nou kan almal skarrelend en vol opgewondenheid voor die boom vergader. Kersfees kan in rus en vrede geniet word en magies knuppeldik gevreet word vir die regte redes. Ons voel almal effens beter en meer bereid om die prys aan die einde van die maand te betaal.

Vanaand, wanneer ons die liggies afskakel, haal Ma die oorskiet uit en roep skraal uit ” nog ‘n stukkie Gammon?” Stadig loop ons almal uit ons middag slapies uit en eet nog ‘n stukkie, proe nog ‘n koffietjie en speel weer ‘n liedjie. Met die maan helder bo ons, die eerste vuurwerke vir Boxing day wat begin wriemel in die agtergrond groet ons nog ‘n genadiglike dag.

My boom lyk nie so nie.

*Bygelas: verskoon spelling- my woordeboek is weggepak in ‘n boks vir trek. Lekker laaste feestyd dae. Amen*

WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: