Wandelende OuPa

Of dit Paul, Simon, David of Goliat was kan ek nie vir jou sê nie. Nog minder kan ek die boek se naam onthou. Maar êrens in die Bybel het God seker gemaak dit staan dat jou woorde vrugte moet dra.

Ek kan myself sien sit in die klein kerksaal kamertjie waar ‘n Tannie Pop vir my les opgesê het toe ek ‘n medemaatjie met my woorde mishandel het. Diep rooi en te klein om die waarde te sien was ek oortuig sy weet nie van beter nie. Ouderwetse Tante!

Hierdie jaar maak ek ‘n poging om kinderkerk en Bybelskool te doen. Nie vir die plakker van #1 Christen nie, want God weet hiérdie kindjie is ‘n spesiale saak waar baie vergifnis en baie geduld nodig is. Ek doen dit bloot vir die ekstra myl wat ek saam Hom kan stap, in Hom leef en ‘n werklike kennis van Sy persoonlikheid kan kry.

As jy al ooit saam ‘n Oupa deur die bos gewandel het, dan weet jy min of meer hoe dit voel om elke dag saam met God te stap. Mens voel amper nie mooi op jou plek nie- te bang om iets absoluut vertraag te sê want jy weet jou kennis is nie so volmaak soos syne nie. Jy weet ook hier wag ‘n lewensles êrens om ‘n boom se stam, onder ‘n klip of om die volgende draai, reg om jou te maak peins.

Aan die begin van die jaar was daar ook al weer ‘n aangename knapie wat my vir ‘n lekker romantiese ete uitgevat het. Arme knapie het nie binne die eerste paar uur besef dat ek absoluut vertraag is met liefde nie- en ook nie besef dat ek nie juis nou soek vir ‘n ingewikkelde ondekkingsreis saam hom nie. Dus was knaap diep ontsteld toe ek maar twee dae later vir hom mooi moet verduidelik dat die figuur wat hy tussen die sterre sien as hy middernag aan my dink, nie ek is nie.

Jammer, maar ek is nie nóú lus vir ‘n verhouding nie.

Wat kan ek nou anders sê sonder om sy hart te breek?

Knapie die apie het gaan sit en drink die aand en in ‘n oomblik van absolute hartsverskeuring gebabbel: “dit is okay- sy kan maar gewig verloor in elk geval.”

As u nog nooit gehoor het van ‘n ego-boost sin nie- dit is hoe een klink. Jy probeer jouself troos deur iets negatief oor die ander persoon te sê.

Ek was nou nie veel omgekrap nie. Ek weet mos self hoe sulke dinge verloop en het self al sulke sinnetjies in ‘n oomblik van treuring gebruik. Nie te min het ek ‘n paar weke later myself vertrap voor die spieël besig om die walglike vibrerende bo-bene van my te aanskou. Dieët, water, gim en amper-amper Tim Noakes oorweeg was my volgende stap. Tot ek gisteraand vir ‘n vriendin vertel dat sy so pragtig lyk. Sy kyk verstom na my en vertel hoe sy bittergraag mý lyf sou wou hê. Om op te som- vanoggend voel ek soos die pronkerige plankies wat op die loopplank wip. Ek trek my gunsteling roos-pienk romp aan, my Mamma se bloesie en trippel die padjie klas toe. Komplimente van elke hoek-en-draai val my aan en ek voel soos daardie sielsgelukkige celeb op die voorblad van Women’s Health met haar uitspattige maagspiere. Ek koop selfs vir my ‘n koffie in aflsuiting van my dag en ontmoet ‘n vriend wat saam my huis toe stap.

Net soos ons onderdeur die ry van Koorsbome loop, sien ek die ongemaklikke houdingetjie wat hom al hoe verder van my af laat loop. Diep bekommerd oor die warm dag wat my effens laat sweet vra ek hom of alles okay is. Net daar, sonder enige waarskuwing of apologie ruk hy ‘n sinnetjie uit: “Ek hou nie van hoe jy lyk vandag nie. Jy lyk soos ‘n ou tannie en as jy ooit ‘n kêrel wil hê sal jy nie een kry met dáárdie outfit nie.”

My brein het dadelik in oorlewing ingeskakel en van diep binne my borrel ‘n laggie wat nie heeltemal oortuigend was nie. Ek snak so tussen woorde na my asem maar kry darem “elkeen vir hom self” uit en loop effens vinniger. Ek moet seker vir hom omverskoning vra. Hy is maar net ‘n ingeneur. En sjame, boonop nog man ook.

Weet jy waar kry ek toe daardie lewensles op hierdie week se wandel saam Oupa God? In ‘n Vincent Oliphant gedig.


Woorde


my woorde het nie die krag

om bose magte tot ‘n val te bring nie

my woorde kan bloot sing

my woorde is nie ‘n dak

om onder te skuil nie

my woorde is swak

my woorde kan nie keer

dat ons die kromme note haal nie

my woorde is kaal

glo tog

my woorde het nie die byt

van koeëls en grofgeskut nie

nee

my woorde kan bloot bid

en pleit

en wens

medeburgers van die lewe

dat ons van die grense sal vergeet

en bloot mens sal wees

en medemens


Ek hou van hoe ek lyk. Ek dink dis uiteraard nogals heel vintage. Nie dat dit nou eintlik saak maak nie.

Ek kan maar net lag. Want my God ken my ook al te goed. Hy weet ‘n logiese beskrywing en feitlike waarneming sal my min leer. In plaas daarvan skep Hy ‘n digter wat woorde vir my in prentjies kan verander en ek sien nou hoekom ons woorde moet vrugte dra.

Gaan uit en skep ‘n hele vrugteboord met jou woord.

Scarlet Emperor beans climb up the arbor, and clumps of lavender grow at its feet.

Advertisements

Die kos is klaar

Dit het nog nooit vir my sin gemaak nie. Van die begin van my so-te-sê finansiële onafhanklikheid was Februarie die kortste maand. Met dié bedoel ek nie die eenvoudige “daar is 2 dae minder nie”. Nee. Februarie het net nooit genoeg geld nie.

As mens eindelik die laaste begeertes met jou laaste sente gekoop het op die 31ste Januarie, kyk mens met glinsterende oë voorentoe na die aankomende 28 dae. Geld sal binnekort invloei in jou verskeie debiet kaarte in (ja, ek’s student) en dan kan jy ook begin om die 10% wat so op aangedring word, te spaar.

Maar dit is nie so nie.

Daar is nog ‘n week oor.

Weet jy hoe ver kan ‘n blikkie Woolies hoendersop en ‘n pak gevriesde McCain groente jou kry? ‘n Hele 3 aandetes. Dis al wat ek kort. Want die naweek gaan ek weer vir Mamma kuier, en hopenlik sal ‘n gawe bakkie voorbereid- en gevriesde kossies vir my staan en wag. Of ten minste ‘n vinnige inhol in Woolies in.

Ek moet net by sê dat mens wel jou ouers vir nog ‘n bietjie kan vrae. Kla sal hulle nie veel nie, want jy is ‘n uur se ry weg en hulle wil jou graag weer sien. Maar trots het ek te veel van.

Ongelukkig kom daar saam met die verantwoordelikheid van finansiële onafhanklikheid ook ‘n genadelose skok van hoe duur die lewe is. Eweskielik maak die optel en aftrek somme van graad 9 rekeningkunde nie so mooi antwoord nie. Want die Vader alleen weet hoe my ouers dit reggekry het om skoolfooie vir 2 kinders te betaal, nie te praat eers van die nog ekstra roomys, kleedingsstuk of potlood nie.

Vir nou sal ek eers die trou en kinders hê storie uitstel. Of is dit juis die antwoord- ‘n ryk man?

As my Ma weer vir my vra: “my liewe dogter, watter man wil jy hê?” sal ek nie tweekeer hoef te twyfel nie.

Een met kos.

Kruis en Klank

Van kleins af het ek Jesus sien dans saam met ‘n klein dogtertjie in ‘n veld vol vrolike viooltjies (enige blom eintlik, maar die alliterasie is skrikwekkend). Mense het baie keer dan vir my kom vertel van die illuminati en hoe dié skobbejak-groep agter elke woordjie en nootjie kruip. Só ook was ek vertel van die verlyding wat ‘n lekker dansie kan veroorsaak.

Vir lank daarna was God vir my ‘n skrikwekkende wese. Só dat ek een aand in diep trane uitgebars het in my bed met die gedagte dat ek nooit met my Pa die ewigheid in kan dans nie.

Net daarna was ek op ‘n jeugkamp waar God met my kom dans het. Deur die sissende takke van die wilgerbome en op die fluit van die kwikkies het ek en God mekaar ontmoet op die dansvloer. Soms val ek oor my voete of verloor ek ritme, maar dit is okay, want ek dans met my Koning.

Woensdae kan vreeslik uitputtend wees- so tussen niks en nêrens. Sonder die nodige inspirasie kan ons maklik onsself plat op die grond vind teen Vrydag- verkieslik nie weens ‘n een-te-veel slukkie nie. Daarom deel ek graag my Top 3 liedjies waarop jy soos ‘n elegante engel kan dans tussen viooltjies.

Eerste op die Top 3 vandag is Bouwer Bosch se ‘God’. Dié man het al self gesê hy kan nie sing nie. Maar hy het tog iets wat werk in sy musiek. Veral die nagedagte.

Tweede is een van my gunsteling deur Charlie Hall- ‘You are God’

Laaste is ‘n nuwe een wat ek Sondag gehoor het. ” Multiplied” deur NeedToBreathe.

Lekker woensdag en lekker dans.

WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: