Wynnig


Teleurgesteld besef ek nou dat daar ‘n leemte is in die Verklarende Woordeboek. Daar tussen wynhuis en wynjaar is daar nie ‘n woord nie. So alweer is ek die maker van woorde. Wat noem hulle dit?

Waansinnig, -e;-er; ste. Mal, kranksinnig; paranoies.

Vir eers hoop ek nie ek is die waansinnigste nie. En ek sou ook nie so ver gaan om te sê dat ek paranoies is nie. Is ek?

In iedere geval is daar nie die woord ‘wynnig’ nie. Dit is tog korrek volgens Afrikaans se klankstruktuur gevorm. Selfs ‘n samestelling, as mens so tegnies wil wees. Maar bestaan doen hy nie. Al lê dié woordjie so lekker op die tong.

Met wynnig wil ek probeer verduidelik wat ek tans beleef het. Eskom was weer vertroubaar met hulle fase 2, en dus het my liggies magteloos asem uitgeblaas. Uit met die leë wynbottels, kerse, vuurhoudjies (wat in Nederlands “lucifers” genoem word. Te oulik) en daar staan my tuinhuisie vol geel, flikkerende mot aantrekkingskragte. Jy kan jou indink wat volgende gebeur het. Die laaste bietjie wyn wat al bietjie te lank gestaan het in die yskas het dadelik vorendag gekom. Waansinnig, ek weet, maar ek het in al my donkere eensaamheid opgekrul op die bank en salig begin sip aan my Saint Anne.

(Vir die wat, soos ek, nie ‘n wynkenner is nie, Saint Anne kan vergelyk word met kleuters se té soet druiwesap.)

So ja. Daar lê ek skuins op een boud en wynnig oor my dae as student. Kerse het maar nog altyd spesiale kragte. Net soos daardie kamikazi mot, word realiteit verdoesel en al waaraan gedink kan word is melancholie.

Daarvoor moet ek aan Eskom baie dankie sê vir hulle deernis dat nie nét my oorwerkte liggies nie, maar ook ék afgeskakel kan word. Selfs al was dit teen my eie wil. Selfs al moes aandete ‘n paar uur langer wag, my werk eenkant toe geskyf word en die laaste draderige klank uit die laptop ook vir ‘n ruk eers stil word voor die kragopwekkers êrens in ‘n fabriek weer begin trap.

Dalk is dit dan die verklaring van my ‘wynnig’.

Wynnig: -e, -heid. Om nostalgies te dink oor die lewe oor ‘n glasie wyn na Eskom die krag afgesit het.

Ek dink dit is heel toepaslik op die omstandighede. Voel maar vry om vanaand ook jou eie glasie uit te haal, iets gevaarliks te skink, half gaan lê-sit en weg te verdwyn in jou peins.

Hier is selfs ‘n klankie of twee om die ore te streel vir die eerste halfuur wat jou laptop se battery uithou.

Viva Suid Afrika!

Advertisements

3 thoughts on “Wynnig

Add yours

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: