wetenskap van afwesigheid

Afwesig: 1) Op ‘n ander plek, nie teenwoordig nie

Daar is ‘n term wat die alomvattende ‘hulle’ gebruik in die studie van Post-koloniale literatuur. Elke dosent het ‘n liefde vir die wetenskap agter hierdie woord wat impliseer dat een entiteit nie sonder ‘n ander gedefinieer kan word nie. Die een se definisie is dus geïmpliseer of nodig om die volle omvattende diepte van die ander te verstaan.

Binêr: tweedelig

Afwesigheid is een van hierdie entiteite wat binêr is. Deur om te praat van afwesigheid impliseer ek dat jy al aanwesig was.

Besig om te wees -só dat ek dit agtergekom het. Die blote proses van realisering van jou wesigheid het my beïnvloed en nou kan ek nie meer myself beskryf sonder om jou ook te beskryf nie.

So ek sal begin by jou:

Jy is vandag afwesig. Nie meer hier nie. Êrens waar jy nie in die sirkel van my gang is nie en my nie meer beïnvloed nie. Hierdie afwesigheid van jou, vandag, is baie aanwesig.

Jou afwesigheid is aanwesig.

Jy is aanwesig in elke aanwesige liedjie wat in huilende note deur die aanwesige lug spoel en jou afwesigheid verklaar. Jy is ook aanwesig in die twee aanwesige duifies wat saam sit en koer in die aanwesige boom en jou afwesigheid beklemtoon.

Afwesig: 2) Verstrooid; sonder bewussyn

Jou afwesigheid los my afwesig. Binêr. Ek en jy. Tweedelig.

Sonder jou is daar ‘n deel van my wat nie verklaar kan word nie. So ek is afwesig vir vandag. Verstrooid en sonder ‘n bewussyn behalwe vir die bewusheid van jou afwesigheid. My verstrooidheid forseer jou aanwesigheid.

My afwesigheid is jou aanwesigheid.

Daar is ‘n baie eenvoudiger idioom om jou afwesigheid te verklaar:

Soos vinkel en koljander,

die een is-

Soos die ander.

Advertisements

Onweer

As die wolke so hang – swaarmoedig hang asof die grys van verdriet neersak op natuur se bewussyn- waai die wind van wete weer deur my. Ek probeer skuiling ontsnap en vind vryheid onder die boskoorsboom waar blare hul gang gaan en jaarsirkels met ‘n kreet van geboortepyn groei.

My asem rinkink bo tussen takke terwyl my longe hieronder huig.

As ek net die wind kan vang-

verdwyn tussen veerligte wolke-

as ek net weer kan sit op die punt van ‘n piek en agter ‘n onervare bloulug aan vlug.

IMG_4684

Soul per sole

wat kan jou skoensool vandag vir my vertel?

Ek dra Hi-Tech bootsies. Van daardie leer stapskoene wat mens aantrek as jy braaf wil lyk terwyl jy die wind uit ‘n berg uit slaan. Daardie skoene.

Hulle sole is pappa-sole. Daardie diep ingegrafeerde gapings wat so mooi patroontjies van sekuriteit op die strand stap langs baba-voetjies. Die doel was seker nooit om dit grafies mooi of sterk te laat lyk nie. Eerder vir vasklou.

As ek nou feministies wil wees kan ek ‘n hele paar bladsye tik oor hoekom mans-skoene hierdie vasklou rubber onderaan het, en vrouens s’n nie. Maar ek voel nie vandag baie feministies nie, en ek twyfel dat my sole vroue voete verkies.

Eerder as om sosiale onreg teen te staan, sal my sole vandag vir my vertel oor Stellenbosch se teerpaaie. Die sypadjie wat ek elke oggend slaperig uitgedurf het na ‘n koffiewinkel toe wat sag geteel is met… wel met teels. Die skoen het seker al snuffelings geproe aan krummels croissant en sjokolade koekies. Dalk was daar ‘n gelukkige morsie koffie of espresso. My sole het natuurlik baie hoë-klas. Net die sterkste koffiegeure word toegelaat om in te trek en deel te word van die outentieke leer.

My skoensool sal ook vertel van my geneigdheid om soos ‘n ballerina te staan- hakke teen mekaar of een voet se toon dwars voor my gepunt. Noem hulle dit fifth of sixth position? Ek weet nie, ek doen nie ballet nie. Ek het as norse sesjarige nog moedswillig in die klas gaan sit, hande gevou, en geweier om op stukkies houd wat voor jou skoen ingedruk word te draai. Hoekom moes ek? Ek kan by my einste self mos ook draai.

ballerina skoeneMy skoensole verlang ook na die optraendes van Simonsstad. Hulle snak na die uitkykpunt en trappies klim wat dodelik was op daardie tydstip, maar die seer knieë werd was. Hulle verlang om lug te skep bo op ‘n berg. Om die stof en motballetjies te ruik van antieke winkels wat die kuslyn van die Kaap versier. Die avontuurlustigheid wat aan die sole se nate ingewerk is, huig na ontsnapping en wandelinge deur Suid Afrika.

My sole behoort aan Simonsstad
My sole behoort aan Simonsstad

My sole verlang na die sandkorreltjies van Strand. Die alleen-tyd wat hulle daar koesend van die see af geloop het, langs God wat my daar kom ontmoet het, en ‘n skulpie gegee het. Ek wonder of sole ook soms ‘n geloof het. ‘n Tipe houdgemaakte plakkie of ‘n ding wat al oor die hele wêreld gestap het en nie verweer nie.

Hulle heimwee. Soos my Oupa se plaas met die naam “Heimweeberg”. My skoene, al was hulle nooit daar nie, verlang na Heimweeberg en die genade wat elke oggend soos dou uitgeklouter het oor die huis. My Hi-Techs heimwee na die Vellies van hulle voorvaders. Daardie einste Vellies wat vore ingedraf het soos die boere al agter water aan gehardloop het.

My skoene se sole is nog skrikkerig vir lughawens. Nie net die menslikheid wat daar ontroer nie, maar die gravitasie wat mens forseer om oor jou lewe te tob. Hulle is naar vir die gevoel van opstuig en die lugdruk-situasie (shh, dit is ‘n sensitiewe saak). Maar tenspyte van hierdie vrees en siekheid, is daar nog ‘n binneste wat daarop aandring om avontuur te oorweeg as uiting van die stad se gasse en ontevredenheid.

Die sole van my skoene. Die arme deftige-daantjies is nog skaam vir ander lande. Die strate van ander plekke sal dalk nie so soet loop nie. Die koffiewinkels sal dalk nie so glad proe nie. Miskien sal die winkels daar nie politoer verkoop nie en hulle mooi veletjies sal verinneweer.

Hierdie rubber-lopers het ook ‘n wensie vir die toekoms. ‘n Skoen-droom as jy wil. Ook wil hulle eendag daar in die voorportaal staan, uitgedraf, uitgestap, uitgeproe. Hulle wil daar staan langs ‘n groter paar skoene en tuis voel. Die sole wil klaar wees. Gelukkig wees. Vertroulik kan sê dat elke duintjie uitgestap was en afgerol was. Dat elke stadjie en dorpie en tuisland se sytak-padjies deurgeloop is. Deur. Nie dwarsdeur nie. Maar ingetrap is. ‘n Kennis van elke teerkrummel opgeneem in die sole-boekie. So iets.

Eendag.

My lopers. My skoentjies. My sooltjies.

Laat ons trap waar die wolke ons môre neersit.

tussenspel

Ek sit op ‘n klip

waar oseaan rots laat roes.

Voor my: onbereikbare lewe.

Agter my: sinne verwoes.


Op ‘n piek van ‘n aangebore berg,

sit woorde verlangend en ver

terwyl tipografie

van Dover Beach

se gekalkte geografie

my bolangs sit en terg.


Maar hier,

om Tafelberg vergader,

sit ons vaders en skryf

-net een refrein-

van oorerfbare pyn.

-dr-

WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: