Denouement

My lope van huis na klas begin stiptelik om sewe-uur. Dit is ‘n Maandag oggend waar die skool se pligsgetroue vroue baklei om die kinders eerste by die hek af te laai. Al wat dit vir my beteken is ongelooflike onnodige verkeer terwyl ek net oor die pad wil hardloop.

Die stappie is gewoonlik briesig. Een van daardie dae waar jy weet die eerste drie ure gaan koel wees met rooi uitgeslaande bene; die een uur om middagete sal relatief gemaklik wees met ‘n geheime sweetjie onder die arms wat die laaste drie ure van die dag barstig deur klere suipel en vir almal afkondig dat dit ‘n bloedige kwaai winter son is wat jou skuldig bevind van alle kwaad.

Wanneer ek eindelik deur die verkeer by die kolossale hekke van die Universiteit instap, die driehonderdtalletrappe geklim het tot by my eerste klas en heeltemal uitasem, onfiks en selfbewis gaan sit op die leer stoel wat ‘n eienaardige windklankie laat, is ek klaar gedemotiveerd.

My dag sal begin met die dosent wat te veel weet en sy aftyd mors op ‘n groep tweedejaars wat so wel as waar dit net vat as ‘n byvak. Hy sal indringende ontledings bied oor sy vakgebied en sy eie artikels bespreek waarvan niemand die diskoers of hoë woordeskat verstaan nie- nog minder die rede hoekom hy nie skyfies gebruik om ons aandag te trek nie.

Ek sal af by die driehonderdtalletrappe hardloop- miskien een mis en maak asof ek nie amper-amper my hele onderrok vir die slaperige studente verklap het nie. Uit by dié deur sal ek in by die volgende gebou se trappe ophardloop net betyds vir die volgende dosent om aan te dring op prioriteite van klaslesings bywoon en voorgeskrewe boeke lees. Ek sal teken en nie luister nie. Miskien iets oor diskoers se betekenis neerskryf, rondkyk en die Pinterest-Poppies met pienk naels veroordeel.

Op ‘n tyd sal ek ‘n ongemaklike twee ure af hê waar ek eers onder dié boom en dan op dáái bankie gaan sit en sorgvuldig my kos hap terwyl ek ‘n boek probeer klaar lees. Ek sal weer tussen skadu’s van bome draf om koelte te voel. Ek sal weer op die (die keer taai) leer stoel gaan pletter waar ek later ‘n rooi pynlike merk op my agterbeen sal hê – en miskien ‘n paar minder hare.

Op ‘n tyd sal ek terugstap. Deur die vier-uur verkeer van die pligsgetroue vroue wat eerste hulle kinders by die hek wil oplaai. Ek sal tussendeur die skadu’s van tralies van die skool se rugbyveld probeer trap. Die sproeiers is orals aan en verkoel die kompos wat oor die gras gestrooi lê.

Ongemotiveerde kinders sal een vir een halfhartig opstaan om “ma’am” te mompel vir my- wat duidelik nie “ma’am” heet nie. (ek is onlangs 20: ‘n enkele 4 jaar ouer as jy). Die son sal gewoonlik bloedig brand as dreigemend vir die volgende dag se terugkeer.

Maar vandag. Vandag was anders.

Gisteraand het ek gesit en tob oor my lewe en besluit om ‘n opstel van my identiteit neer te skryf. Een wat sal aanvaar word in ‘n hemel en deur ‘n God wat my met ope arms- sonde en al sal aanvaar. Ek het gaan slaap met die gedagte dat ek weer môre se son in die oë sal moet staar.

Vanoggend was vars. Ek het effens laat geslaap. Eers gewerk en toe geklas. Ek het die koue ure in die bed gelê en uitwag terwyl ek na die vinke se vlye-dans in die suurlemoenboom gekyk het. Die pad was nie so droë-jasmyn pad nie. Ek was vrolik verwelkom deur ‘n oranje son wat met die skaam-groen blare van bome begin speel het.

Ek het die weeklikse avontuur na ‘n ander kampus toe gemaak. Teruggekom. ‘n Paar woorde van soorte neergekrap. Maar die stap terug was lewens veranderend. Nie net was die verkeer vir eers kalm nie- die hele aarde het in stilte en afwagting gesit en die denouement van winter aanskou. Die groen van die uitheemse dooie bome het skelm oornag teruggegroei. Die son het aan die anderkant van die wêreld karakter verander en besluit om hulpsaam eerder as afbrekend te wees. Die baba voëltjies het begin sing.

Die rustigheid het my laat lus kry vir ‘n skemerkelkie op die naat van ‘n bos se rug waar besies besig sing en groeipyne van bome se takke gehoor kan word in die gedreun van stilte.

Lente het in die kommer oor die winter se droogte en warmte soos ‘n Sneeuwitjie opgedaag en die hele hut met al haar eienaardige diertjies afgestof en uitgestal vir ons hoop en vreugde wat oor ‘n paar weke aan die punte van bome sal hang in die vorm van pers blommetjies.

Dit is Jakarandatyd.

Advertisements

Ou Gustus

Ek was opsoek na woorde wat die delikate neerhalende Gauteng-in-Augustus atmosfeer kan beskryf. Ek het self gedigte opgedink, woorde probeer skommel om vreetsame frases voor te sit. Maar die woorde wat net woorde is kan nie die metafoor van Augustus se Jasmyn verduidelik nie.

Ek het toe begin soek – begin soek vir klaargestikte poësie wat kan verduidelik hoe die seisoen my vra om in vryheid te dans maar my alleen los in my vrees vir wat vryheid kan impliseer.

Ek het afgekom op hierdie gedig:

 Full Wort Moon in August 

-William C. Bryant-

The moon is at her full, and riding high,

floods that calm fields with light.

The airs that hover in the summer sky

Are all asleep to-night

Natuurlik is die maan nie ‘n Suidelike maan nie. Die Augustus wat hy ervaar het was ook nie ‘n Afrika Augustus nie.Toe besluit ek, die gedig sal genoeg metafoor wees vir my betekenislose woorde:

Ou Gustus

Die maan is half; laag,

‘n vloed van warmte ontmoet nag.

Die wind wat ween oor winter lug –

is dood.

Ek verwag indringende ontledings opstelle van elk- die legkaart van poësie skryf kan soms lekker wees.

Ek het nog een. ‘n Rofwerk gedig wat ek in ‘n skuilende tuin in Pretoria geskryf het terwyl ‘n aardige Hadida my aanskou met kennis wat my verwar.

Livia

daar is minder om

oor te skryf

in augustus.

jasmyn wat blom

verdwyn.

winter hoes die laaste

dodelike pyn.

die dukte

is fyn.

iewers sput die werker

weer sy tuin

Daar is nou twee vir ontleed.

Trekklavier

Pretoria is warm. Geografies omdat die dorp op ‘n effense plato lê. Geestelik omdat dit Sondag is.

Die windjie wat wel waai is droog. Die droogte van na-skool rugbyvelde in die winter met ‘n droë grassige reuk wat jou neus kielie. Ek dink dis die wind van herinnering- en daarmee bring dit ‘n koel dankbaarheid.

Die Katlagters karwoel ook al nader uit die Papierdoringboom wat my laat dink dit is vyfuur. As ek nou by die voordeur uit sou hardloop, verwag ek dat daar ‘n padjie rooi sand voor my sal lê wat verdwyn in ‘n laeveld bos in. Daar sal ook ‘n verdwaalde koei êrens roep in ‘n warrelwind in. Enkele hoenders sal ook kekkel in die skemer in.

Miskien sal daar melangoliese vyftiger vrouens begin dans in die strate met hulle rooi rokke wat hoog en laag swaai. Wasgoed sal die tuine bedek omdat die wind chaos verklaar het. ‘n Dag van absolute vrolikheid. Roetine sal saam met die sokkies op ‘n mistieke toer deur die dorp gaan.

Nog verder terug sal enkele perdekarre nader kletter vir ‘n samesyn van koffie terwyl die son sak op die horison van die plaas. ‘n Kleintjie sal môre se eiers gaan haal in die hoenderhok. Moeders sal in Nederduitse rokke in die laehitte staan in die kombuis en brood bak. Vellies sal voor die agterdeur asem haal.

Voor die eerste ster verskyn, sal die skaduwee mans onder die boom uit kruip. Stadig sal hulle op die ritme van die jakkalse begin sluip onder die maanlig in. Hulle bokvelle sal wip oor hulle boude soos die lentedans begin.

Kan jy dit voel nader kom? Die gedruis van die boesman?

Die aand sal voor dou gevul word met nagklanke van handeklap en voetestamp wat stof laat opvlam in ‘n rooi wolk in.

Die dou sal val. Die son waarsku diskant die ooste. Saam kruip die skaduwees weer terug onder die bome in en verdrink onder die wortels van die Papierdoringboom. Ek sal weer die pad op stap en die rooi-rok tannies aanskou wat uitgeput die wasgoed optel. My voete sal rooi merke los op die welkom-matjie. Die deur sal agter my sluit.

Binne in my verwarmde tuinwoonstel sal daar ‘n avontuurlustige donkerte my verwelkom. Klokkies wat lui met feë-liggies om ‘n nagtelike atmosfeer te skep vul die spasie tussen hede en verlede. Op die vloer is daar hope komberse om op neer te val en jouself toe te draai. As ek my kop moes neerlê, sou my middernag in Pretoria tot ‘n einde kom. Die jakkals se getreur sou saam met die boere se trekklavier in harmonie eindig op ‘n finale akkoord.

As ek wel weer my oë môre oopmaak, sal ek die gesamentlike probeerslag tussen my tuin en die bure s’n sien. Saam het ons ‘n hele handvol strekkende bome waar my geel vinkie kan knik. Saam het ons ‘n hele grasperk vol skaduwee’s wat wortels verberg. ‘n Hele paradys tussen ‘n stad se vier mure voor die Jakarandas begin verpers.

Tot Lente. Tot dan.

WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: