Trekklavier


Pretoria is warm. Geografies omdat die dorp op ‘n effense plato lê. Geestelik omdat dit Sondag is.

Die windjie wat wel waai is droog. Die droogte van na-skool rugbyvelde in die winter met ‘n droë grassige reuk wat jou neus kielie. Ek dink dis die wind van herinnering- en daarmee bring dit ‘n koel dankbaarheid.

Die Katlagters karwoel ook al nader uit die Papierdoringboom wat my laat dink dit is vyfuur. As ek nou by die voordeur uit sou hardloop, verwag ek dat daar ‘n padjie rooi sand voor my sal lê wat verdwyn in ‘n laeveld bos in. Daar sal ook ‘n verdwaalde koei êrens roep in ‘n warrelwind in. Enkele hoenders sal ook kekkel in die skemer in.

Miskien sal daar melangoliese vyftiger vrouens begin dans in die strate met hulle rooi rokke wat hoog en laag swaai. Wasgoed sal die tuine bedek omdat die wind chaos verklaar het. ‘n Dag van absolute vrolikheid. Roetine sal saam met die sokkies op ‘n mistieke toer deur die dorp gaan.

Nog verder terug sal enkele perdekarre nader kletter vir ‘n samesyn van koffie terwyl die son sak op die horison van die plaas. ‘n Kleintjie sal môre se eiers gaan haal in die hoenderhok. Moeders sal in Nederduitse rokke in die laehitte staan in die kombuis en brood bak. Vellies sal voor die agterdeur asem haal.

Voor die eerste ster verskyn, sal die skaduwee mans onder die boom uit kruip. Stadig sal hulle op die ritme van die jakkalse begin sluip onder die maanlig in. Hulle bokvelle sal wip oor hulle boude soos die lentedans begin.

Kan jy dit voel nader kom? Die gedruis van die boesman?

Die aand sal voor dou gevul word met nagklanke van handeklap en voetestamp wat stof laat opvlam in ‘n rooi wolk in.

Die dou sal val. Die son waarsku diskant die ooste. Saam kruip die skaduwees weer terug onder die bome in en verdrink onder die wortels van die Papierdoringboom. Ek sal weer die pad op stap en die rooi-rok tannies aanskou wat uitgeput die wasgoed optel. My voete sal rooi merke los op die welkom-matjie. Die deur sal agter my sluit.

Binne in my verwarmde tuinwoonstel sal daar ‘n avontuurlustige donkerte my verwelkom. Klokkies wat lui met feë-liggies om ‘n nagtelike atmosfeer te skep vul die spasie tussen hede en verlede. Op die vloer is daar hope komberse om op neer te val en jouself toe te draai. As ek my kop moes neerlê, sou my middernag in Pretoria tot ‘n einde kom. Die jakkals se getreur sou saam met die boere se trekklavier in harmonie eindig op ‘n finale akkoord.

As ek wel weer my oë môre oopmaak, sal ek die gesamentlike probeerslag tussen my tuin en die bure s’n sien. Saam het ons ‘n hele handvol strekkende bome waar my geel vinkie kan knik. Saam het ons ‘n hele grasperk vol skaduwee’s wat wortels verberg. ‘n Hele paradys tussen ‘n stad se vier mure voor die Jakarandas begin verpers.

Tot Lente. Tot dan.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s