Denouement


My lope van huis na klas begin stiptelik om sewe-uur. Dit is ‘n Maandag oggend waar die skool se pligsgetroue vroue baklei om die kinders eerste by die hek af te laai. Al wat dit vir my beteken is ongelooflike onnodige verkeer terwyl ek net oor die pad wil hardloop.

Die stappie is gewoonlik briesig. Een van daardie dae waar jy weet die eerste drie ure gaan koel wees met rooi uitgeslaande bene; die een uur om middagete sal relatief gemaklik wees met ‘n geheime sweetjie onder die arms wat die laaste drie ure van die dag barstig deur klere suipel en vir almal afkondig dat dit ‘n bloedige kwaai winter son is wat jou skuldig bevind van alle kwaad.

Wanneer ek eindelik deur die verkeer by die kolossale hekke van die Universiteit instap, die driehonderdtalletrappe geklim het tot by my eerste klas en heeltemal uitasem, onfiks en selfbewis gaan sit op die leer stoel wat ‘n eienaardige windklankie laat, is ek klaar gedemotiveerd.

My dag sal begin met die dosent wat te veel weet en sy aftyd mors op ‘n groep tweedejaars wat so wel as waar dit net vat as ‘n byvak. Hy sal indringende ontledings bied oor sy vakgebied en sy eie artikels bespreek waarvan niemand die diskoers of hoë woordeskat verstaan nie- nog minder die rede hoekom hy nie skyfies gebruik om ons aandag te trek nie.

Ek sal af by die driehonderdtalletrappe hardloop- miskien een mis en maak asof ek nie amper-amper my hele onderrok vir die slaperige studente verklap het nie. Uit by dié deur sal ek in by die volgende gebou se trappe ophardloop net betyds vir die volgende dosent om aan te dring op prioriteite van klaslesings bywoon en voorgeskrewe boeke lees. Ek sal teken en nie luister nie. Miskien iets oor diskoers se betekenis neerskryf, rondkyk en die Pinterest-Poppies met pienk naels veroordeel.

Op ‘n tyd sal ek ‘n ongemaklike twee ure af hê waar ek eers onder dié boom en dan op dáái bankie gaan sit en sorgvuldig my kos hap terwyl ek ‘n boek probeer klaar lees. Ek sal weer tussen skadu’s van bome draf om koelte te voel. Ek sal weer op die (die keer taai) leer stoel gaan pletter waar ek later ‘n rooi pynlike merk op my agterbeen sal hê – en miskien ‘n paar minder hare.

Op ‘n tyd sal ek terugstap. Deur die vier-uur verkeer van die pligsgetroue vroue wat eerste hulle kinders by die hek wil oplaai. Ek sal tussendeur die skadu’s van tralies van die skool se rugbyveld probeer trap. Die sproeiers is orals aan en verkoel die kompos wat oor die gras gestrooi lê.

Ongemotiveerde kinders sal een vir een halfhartig opstaan om “ma’am” te mompel vir my- wat duidelik nie “ma’am” heet nie. (ek is onlangs 20: ‘n enkele 4 jaar ouer as jy). Die son sal gewoonlik bloedig brand as dreigemend vir die volgende dag se terugkeer.

Maar vandag. Vandag was anders.

Gisteraand het ek gesit en tob oor my lewe en besluit om ‘n opstel van my identiteit neer te skryf. Een wat sal aanvaar word in ‘n hemel en deur ‘n God wat my met ope arms- sonde en al sal aanvaar. Ek het gaan slaap met die gedagte dat ek weer môre se son in die oë sal moet staar.

Vanoggend was vars. Ek het effens laat geslaap. Eers gewerk en toe geklas. Ek het die koue ure in die bed gelê en uitwag terwyl ek na die vinke se vlye-dans in die suurlemoenboom gekyk het. Die pad was nie so droë-jasmyn pad nie. Ek was vrolik verwelkom deur ‘n oranje son wat met die skaam-groen blare van bome begin speel het.

Ek het die weeklikse avontuur na ‘n ander kampus toe gemaak. Teruggekom. ‘n Paar woorde van soorte neergekrap. Maar die stap terug was lewens veranderend. Nie net was die verkeer vir eers kalm nie- die hele aarde het in stilte en afwagting gesit en die denouement van winter aanskou. Die groen van die uitheemse dooie bome het skelm oornag teruggegroei. Die son het aan die anderkant van die wêreld karakter verander en besluit om hulpsaam eerder as afbrekend te wees. Die baba voëltjies het begin sing.

Die rustigheid het my laat lus kry vir ‘n skemerkelkie op die naat van ‘n bos se rug waar besies besig sing en groeipyne van bome se takke gehoor kan word in die gedreun van stilte.

Lente het in die kommer oor die winter se droogte en warmte soos ‘n Sneeuwitjie opgedaag en die hele hut met al haar eienaardige diertjies afgestof en uitgestal vir ons hoop en vreugde wat oor ‘n paar weke aan die punte van bome sal hang in die vorm van pers blommetjies.

Dit is Jakarandatyd.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s