Month: September 2015

Die akkedis wat nie wou lewe nie

As laerskool kind het ek eendag afgekom op ‘n akkedis wat uitasem dryf in die swembad. Dit was ‘n Maandag middag, ‘n frustrerende paar uur voor ouers klaar werk, waar ek alleen by die huis was en myself moes vermaak (natuurlik was huiswerk nie eerste op die lys nie: ‘n kind se brein móét mos rus).

Ek het flink gedink dat ek die halfuur van allenig wees goed kan benut in Christelike dade, deur die arme akkedis van die niet te herwin. Ek het die vorige Sondag geleer van diere wat nie hemel toe gaan nie, en terselfdetyd ook gehoor van Jesus wat deur óns wonderwerke verrig. So besluit ek toe dat dit my plig is om dié akkedis van die niksheid te red, en nog ‘n paar dae op die aarde te skenk- of ten minste tot die kat hom vang.

Ek het hom sorgvuldig uit die water getel, saggies op ‘n bed van blare neergelê, oë dramaties toe gemaak en hande saamgevou begin bid. Ek was uitdagend die eerste keer. Ek het onthou van Jesus se gebede wat eenvoudig en sonder twyfel verloop het:

“Ek spreek lewe in hierdie akkedis, Amen.”

Ek het my een oog oop gemaak. Sowaar, akkedis was nog dood.

Nie te min, soms gaan dit so, net om ons geloof te toets. Daarom probeer ek toe ‘n sagtere gebed. Een waar ek my innige simpatie en liefde vir die akkedis uitspreek en mooi vra of die akkedis maar kan lewe.

“Liewe Jesus, hierdie akkedis het perongeluk in die swembad beland, wat ons so selfsugtig laat grou het. Ek vra dan asseblief vir die lewe van hierdie akkedis om terug te kom.  Hy… sy het dit nie verdien nie. In Jesus naam, Amen.”

Ek het dié keer opgewonde altwee oë oopgemaak. Tot teleurstelling, was die arme akkedis nog dood.

Ek het iets onthou van die versie wat vir ons voorgelees was daardie Sondag. Iets wat gesê het dat nét as ek glo, Jesus deur my kan werk. Ek het teruggesit en diep begin dink. Ek was oortuig dat ek glo. Ek voel dat ek glo. Maar duidelik doen ek nie want die akkedis wil nie lewe nie.

Ek het weer begin, dié keer in oortuiging van my eie geloof.

“Ek glo in God die Vader. …Ek glo dat Jesus ons nie wil seer maak of dood hê nie. Ek glo in die heilige, algemene, Christelike kerk. Ek glo dat Jesus deur ons werk. Ek spreek lewe in die akkedis, Amen.”

Net so voor ek my oë weer oopgemaak het, onthou ek nog ‘n belangrike reël vir die verrigting van wonderwerke:

“as dit U wil is. Amen.”

Met dié het ek maar die akkedis toegedraai in ‘n blaar, ‘n gatjie gegrou in ‘n blompot en besluit dat dit nie God se wil is nie en dat ek nog nie goed genoeg glo nie.

Ek lag nou daaroor, as ek terugdink. Al hoekom ek dit onthou is omdat ek nogsteeds soms dink dat ek my geloof moet bewys. Asof ek God moet oortuig dat ek wel in hom glo.

“As jou lewe nie vrugte dra nie…”

“As jy nie glo nie…”

Asof daar ‘n geloof skaal staan in die hemel waarop my aantal geloof gemeet kan word deur die dade wat ek doen, of die vrugte wat ek dra. Wat hierdie vrugte sal wees weet ek ook nie. Ek’s oortuig ek kan hulle nie self erken nie. Hoekom moet ek dan bekommer of my lewe werklik vrugte dra. As ek glo sal dit mos, of ek dit nou kan sien of nie.

So hou ek dan op bekommer of ek glo of nie.

Ek glo ek glo.

Dis genoeg.

(die akkedis lê nog in ruste by die kaktus- niemand het die geraamtes ooit gaan steur nie)

Advertisements

Geheim van die Soetdoring

Die aand word stil en soet en die stemlose kla van die gekalkte pype van die yskas dreun aan. Jy is duskant Ellisras en kort verby Vaalwater. Jy het tweekeer regs gedraai, menigmaal verdwaal tussen blonde gras en só op Marken afgekom.

Die hek na die hoofpad is gesluit. Jy is veilig binne in, hiérdie kant van die kerk en omring deur houtmeubels wat jou toekoms relatief verseker. Aan die anderkant van die kerk lê die drankwinkel en petrolstasie. Sommer aan een- vir gemak doeleindes. Die musiek dreun deur die bos en begely bosmense om in samesyn te dans en trap. Rooi stof sal later gaan lê, na almal uitgetrap word, ledemate ingee en die gesuis nie meer alleen in die ore bly nie, maar gaan sit in agterkop, keel en maag.

Dit is dan wanneer die bos asem ophou. Die gekalkte pype hou ook vir eers op kla. Dié stilte wat jou wakker maak en herinner dat dit die tyd van heksery is. Waar daar nou onheiligheid geskiet om die sonnestelsel sy balans te gee: ‘n bietjie saligheid, ‘n bietjie angs.

Jy sal weer begin slaap. Seer sal jy elke paar uur draai en ‘n oneerbiedige kraak van geroeste vere die stilte in laat knak. Stadig sal die yskas weer begin kla oor kwale.

Teen die son se opkoms sal jy wakker word van die baljaar van katlagters en Oupa se gemompel in die kombuis. Die dag sal begin met ontbyt. Die pap het óf te veel sout óf te min. Die brood sal ook té gebrand wees, of is nog halfgevries, maar eet sal jy maar moet.  Die diens begin oor ‘n uur.

Ouma sal haar hare probeer krul. Haar lippe sal sy pienk verf en haar glimlag sal vergroot as jy vir haar knipoog en fluister hoe die mans almal gaan flou val. Haar vaal-pienk bloes verhelder haar gesig en haar oë se siel spring terug. Jy moet vinnig kyk om die glans wat destyds haar man se hart gesteel het, te sien.

Sy sit dan op haar stoel, sug met oorvloed oor hoe lekker dit is en vertel hoe sy ook so op die bank gelê het en boek lees. Daar waar jou vingers die bladsye vroetel, voel jy die geheim van binne begin kielie. Jou asem hou op en die kielie vloei deur jou hare, uit by die punte en terug in jou neus in.

By die kerk sal jy vir haar die kierie gee, en sy sal (en jy kan jou lewe daarop waag), hobbelrug, seertoon en verkrimpde hande nogsteeds by die kerkbanke verby skuur, oë op haar man gerig, met doel loop. Sy sal soos kind na Moeder, in alle vertroue vorentoe tuimel en haar lewe keer op keer waag en opoffer om voor hom neer te lê. Hy sal in sy oomblik van swakheid haar soen en haar Bybel vir haar aangee. Hy sal weer begin kla oor haar been wat aan hom raak, en soos twee kinders sal hulle mekaar teister, tot na die diens, waar hy opstaan met trane in sy oë en hulle jare saam verkondig aan die skraal gemeente.

Twee-twee loop hulle dan by die kerk uit. Eers ‘n koffie en dan die pad terug met die bakkie wat van die jare se hout en pakkies aandra, sy laaste paar asems by die hek uit kug.

Dit is die paar ure na die diens en voor jou terugkeer stad toe waar jy maar met tee en koek jou tyd om dwing. Oupa sal vir jou op ‘n bordjie ‘n lekkertjie bring. Dit lyk soos goue kerswas wat hy afgebreek het, waar daar nog warm was by die een punt uitlek. Hy het ‘n stuitige glimlag op en sê: “hap, my kind. Dit was ons lekkers toe ons klein was.” Jy proe… maar proe mis. Jy probeer weer maar al wat oorbly is ‘n vae bitter smaak wat taai aan jou tande plak. Hy gee ‘n laggie, gee vir jou die Soduko bladjie aan waarmee hy sukkel:” Begin solank met die kopkrapper”

En terwyl jy die 9 nommers probeer inforseer by elke netjiese blokkie, vertel hy jou van klippe gooi na die Soetdoringboom om die lekkerste van lekkers se gom te kry.

Pasop, my kind

Reën. Reëndruppels orals. Reëndruppels teen my ruit. Reën besig om weg te sink in onkruid.

Die lente het eindelik deur die stof gebreek met ‘n kierie in die hand, ‘n groen kappie op die kop en ‘n beblaarde plakkie aan sy voet. Oor die koppies wat so teen die ideale landskap van Engeland destyds gestaan het- ‘n bespotting van hulle magiese berge- het hy gekom om my te haal.

Wanneer hy eers oor die berg verskyn bedaar daar agter hom ‘n veld se stofwolk. Hy is eers net ‘n glinster en dan ‘n dreun. Voor jy nog kan keer begin hy sy landloop met ‘n donderstorm kort op sy hakke wat dreig om hom in te haal.

Hy het nie tyd om jou te groet nie- net ‘n beskaafde knik van sy kappie en hy’s verby. Sy plakkies sleep deur die rooi sand soos hy verby waai. Hy ruik soos suurlemoen en kruisement- ‘n nagedagtenis.

In die middel van Suid Afrika omvou die skaduwee van die wolke jou. Die wind waai jou hare deurmekaar, brand jou gesig en ontplof in ‘n sentimentele reën.

En hier staan jy. Tussen Lente wat sy kappie nog vashou en weghardloop van sy eie geskenk en die twis tussen lug energië.

Terwyl jy daar staan, hier is vir jou ‘n liedjie of twee.