Month: December 2015

Die roer vir Kersfees

Ek moet bieg: my titel is ietwat misleidend en dalk nie heeltemal taal-korrek nie. Ek wou oorspronklik my titel the scramble for Christmas maak wat ‘n direkte verband het met the scramble for Africa, maar ek is op vakansie en probeer die hele tema van kolonialisasie tot ruste sit vir dié heilige tyd. My blog is ook Afrikaans. Daarom het ek probeer om die titel direk te vertaal. Na regte sal iets soos “die haas vir kersfees” korrek wees, maar dit herinner my aan ‘n hasie en ons wil nou nie Kersfees vir Paasfees misgis nie (vir diegene wat nie weet nie: die een is die geboorte en die ander die opstanding van Christus). Miskien iets soos “die gejaag vir kersfees,” maar ek is ook nie ‘n resieskar nie.

Ek het in ‘n vertraagde poging toe begin nadink aan ander woorde vir scramble. My eerse gedagte was scrambled eggs of “roereier”. Jy weet, daai lui ontbyt opsie met die bietjie melk en die twee eiers want een eier verdwyn voor jou oë in ‘n absolute niksheid waarvoor jou maag meer grom? Daai een. Ook die go-to ontbyt as die hele familie oorslaap. Want hoe méér mense hoe mínder eiers (hoenders was nog nooit baie goeie voorbeelde van wiskundige reëls nie).

Roer het vir my toe so mooi geklink.

Roer jou litte: dink geïriteerde tiener wie se ma poegaai is.

Roerbraai: ‘n bietjie deurmekaar en vetterig maar tog lekker.

Roer: om te meng.

Roerloos: sonder beweging en bietjie vertraag (soos wat Desembers maar is; veral in die hittegolf van el-niño).

So dan: Die roer vir Kersfees.

Ek moet weer bieg.
Ek haat Desember.
Dis na regte nie ‘n werklike vakansie nie. Dis te warm om buite te baljaar. Die swembad is leeg want die water is op en die son guurig. Die huis is vuil. Almal hou op werk en iriteer hulself met niksheid (soos die een-eier roereier) . Daar is leeswerk maar jy lees al heel jaar. Almal het vakansie en daarom is Almal in die winkelsentrum en Almal loop stadig en Niemand koop iets nie want more is Almal weer terug. Die eenkeer wanneer jy tyd kry vir televisie het DSTV ‘n miljoen Rand spandeer op B-rated jingle-bells flieks. Die lys word net langer.

Sug.

Kom ons kyk na die Suid-Afrikaanse Kersfees ervaring: Meeste mense kry verlof om en by die 15de Desember. Daar is dus ‘n enkele 10 dae om twee maande se geld én bonus te spandeer op speeldinge vir die kleintjies; ‘n ding vir die huis; ‘n ring vir die vrou en ‘n happie vir die res van die gespuis (ons praat gammon en beestong en tant Bessie se rolkoek en die kerk se koeksisters en moenie vergeet van Mamma se malvapoeding nie). Daarsy. Kersfees oor en verby.

Nou dan wat volgende? Nuwe jaar.
Moenie dink jy kan nou al rus nie. Nuwe jaar is die een op die ander krekker wat jou wakker hou tot die volgende môre. Daar is oorgangsdienste by die profeet op in die straat se kerk. Daar is water partytjies by die H2o-klub (mens sou dink in ‘n droogte sou hulle buitewerking wees). Daar is stranddienste en strandpartytjies. Nie te min, die eerste dag van die nuwe jaar is amper altyd ‘n waarborg om ‘n vinnige Cremesoda opkikker en Wimpy ontbyt in te sluit. Óf die ou boereraad om aan te hou drink. Aanhouer wen dan, of hoe?

Daarop volgende is die Nuwejaars Revolusie.
Daardie revolusie wat Tim Noaks se maaltyd revolusie insluit; ‘n nuwe New You gymkontrak en natuurlik die Tantes wat ook die ou malvapoedinkie, wat nou op aardige plekke kom koekeloer, probeer afskud deur ‘n stappie om die blok met ou vrinne te tekkel.

My positiewe noot vir die aand is dat die roereier mens tog voed. Die roerlose, geïriteerde tiener roer eventueel sy litte. Die kulture meng. Al is mens bietjie deurmekaar en vertraag rus mens wel so tussen deur die winskopies van Checkers met die rukkerige trollie met die wiel wat mik vir die ander pad. En mens skud definitief die roerbraai se vetterigheid én die sjokoladetjies af. En die gemmerkoekies. En die malvapoeding.

En die roomys. En Waatlemoen.
En yskastert.

My eindpunt? Al haat mens Desember is Desember darem lekker.

Geseënde Kersfees.