Month: January 2016

Die lewende pophuis

Jou sintuie berei waarskynlik voor vir ‘n skrikwekkende vier muur riller-huis waar houtvloere kraak onder voete van vreemdelinge, stoele vanself skuif, teddy-bere se oë beweeg en poppe se monde oopval en ‘n angstige kekkel vrylaat.

Gelukkig is ek nie hier om jou onder die bank in te jaag nie, wees gerus.

So wat dertien jaar gelede was daar ‘n gesamentlike besluit geneem om ons geliefde sandput op te vul. Ek en Boet was al groot genoeg om nie meer karretjies deur sand duine te jaag nie. Buitendien het Boet ‘n Four-Wheeler gekry waarmee hy op en af in die strate kon jaag. Die gevulde sandput was toe die perfekte platform vir ‘n pophuis vir dié groeiende dogtertjie.

Vir weke aanmekaar het ek deur brosjures geblaai en diep getob oor die perfekte huisie vir my, my popkinders en denkbeeldige man. Bittergraag het ek gewens vir ‘n huisie met ‘n stoep. Een waar ek in die oggende my tuin kon aanskou hand aan hand met manlief.  Dié stoep was toe teen besluit, juis omdat my tuin maar meestal bestaan het uit ‘n hondehok en wasgoeddraad. Daar was net nie genoeg plek vir ‘n ordentlike grote huis én ‘n stoep in die agterplaas nie.

O die verdriet.

Vanuit die kombuis venster het ek so maand of wat later aanskou hoe my wendy house gebou word. Stuk vir stuk was my huisie saam getimmer en geseël met ‘n rooi dak. Mamma het ‘n boekrak gekry wat sou funksioneer as kombuiskaste; ‘n houtstofie; ouma se rottang stoeltjies vir ‘n gr.2 se boudjies; ou, plastiek kratte met ‘n ou babadoek omruilmatras op- mooi versier met ‘n gebreide kombersie en kussinkies en als afgerond met ‘n Winnie the Pooh gordyntjie. Dit was iets om te beleef. ‘n Outentieke, organiese lewensstyl, as jy wil.huisie

Ek het die ou, wit geverfde staal tuinstel nader gedra en elke oggend tafel gedek. Daar was koffie [water] , eiers [plastiek] en hout-toast uit my hout-toaster voorgesit vir manlief en kinders. Later het ‘n fiets bygekom waarmee ek deur denkbeeldige verkeer moes haas om die kinders by die skool op in die straat af te laai. Ek was al selfs in ‘n tragiese ongeluk waar ek een kind en ‘n arm verloor het.

Ai, maar die lewe is swaar.

Toe ek laasjaar besluit het om Pretoria toe te trek was my eerste besluit op ‘n woning, ‘n tuinwoonstel. Ure lank het ek gedroom oor my hobbit-huisie wat oorgroei word met rankplante, ‘n rooi deurtjie het wat lei na ‘n magiese sitkamer wat ruik na beskuit en ‘n stoepie het vir vroeë oggend koffie.

Ek het toe ‘n ietwat mindere romantiese tuinwoonstel gevind, heel waarskynlik die ou buitekamer, maar nogsteeds mý tuinwoonstel. Alhoewel my bank nie uit rottang bestaan nie; my bed nie uit kratte en babadoek omruilmatrasse nie; my stofie nie uit hout nie (maar nog so klein); en my fiets nou bietjie meer ratte het met twee ekstra wiele, lewe ek nogsteeds in my pophuis.

Studente speel mos pop.

Ek kan laat slaap en nogsteeds ‘n teetafel dek met skonsies en eiers vir dié wat wil hê. Ek stap nog af in die straat (al is dit om nou self te gaan swot). Ek koester nogsteeds my gebreide kombersie en êrens in ‘n kas lê ‘Charlotte’ en slaap salig al haar jare om totdat my dogtertjie eendag met haar sal speel.wendy

My kommer bestaan nie. My gesprekke oor finansies en ekonomiese ondergang is nogsteeds net ‘n hele klomp sinne wat bestaan uit ‘n hele ketting woorde wat ek êrens by ‘n grootmens gehoor het.

Ek dink my pophuis groei nou saam met my. Dié jaar trek ek in ‘n groter pophuis in- een met ‘n stoep. Eendag in ‘n nóg groter pophuis- een met ‘n dubbelbed. Jare daarna dalk een met ‘n babakamer; speelkamer; spaarkamer en studeerkamer.

En al die tyd speel ek nog pop.

Heeretjie tog

Berei jou voor vir ‘n preek oor die Spreke van Salemo. 

Is jy berei? Goed.

CONTENT: The substance of a work of art, including its emotional, intellectual, symbolic, thematic, and narrative connotations.:
“Hell is empty. All the devils are here”   (Shakespeare; The Tempest). Hole in the Head deur Jessica Harrison. 

Dit is geen geheim dat 2015 ‘n jaar van sosiale chaos was hier op die planeet Aarde nie. Dit is ook geen geheim dat 2016 voorspel word om ‘n jaar met nóg meer chaos te wees nie (innige dankie aan die uwe, President Zuma). Met negatiwiteit wat hang soos die grys, yl wolke wat nie breek oor ons droë land nie, begin ek ‘n poging tot water besparing.

Water besparing? 

Water besparing. 

 

Ek is al opgevoed om in elke woord ten minste drie simboliese betekenisse te ontdek en daarom verduidelik ek graag my woordkeuse.

Water het ‘n assosiasie met vloeibaarheid en lewe- ‘n tipe vrywees en reinheid wat ontstaan uit die religieuse tradisie om te  doop. Ook die water waarmee jy die lewe in geswem het gedurende jou geboorte bied ‘n sterk simboliese beeld. {Handelinge 22:16- En waarom talm jy nou? Staan op, laat jou doop en was jou sondes af deur sy naam aan te roep.’}

Besparing is ook ‘n religieuse daad, so te sê, waar die nodige benut word en wysheid strategies gebruik word om te beplan vir die toekoms en vir die volk wat sal volg. {Spreuke 21:20- ’n Begeerlike skat en salfolie is in die huis van die wyse, maar ’n dwaas bring dit deur.} 

Daarom is water besparing ‘n soort ‘lewe beplanning’. ‘n Taak waar die nodige benut word en die res opgaar in ‘n kas vir jou kleinkinders.

So hoe spaar ‘n mens negatiwiteit?

Foei tog, leser, dit is nou vir jou ‘n taak.

Negatiwiteit kan maar op enkele wyses bespaar word. Eerstens moet daar kort-kort onthou word dat negatiwiteit wel ‘n doel het. Hierdie doel wil ek aan slegs één tipe mens rig (nee, nie jy nie joernalis), maar eerder die trae ou gebeentes in die ouetehuis.

Die lieflikes in die ouetehuis het, ná ‘n aantal jare van positiwiteit in onverdraagbare omstandighede, die absolute reg op negatiwiteit. Hierdie lieflikes hou die jonger generasie op hul tone met frases soos “in ons dae” en “jong, weet jy, ‘n paar jaar gelede…”. Hierdie negatiwiteit is nie net noodsaaklik vir die jonges om hulle eie omstandighede te regverdig óf te verander nie, maar ook belangrik vir die oues om te besef die wêreld was nooit so sleg soos gedag nie. Mens noem hierdie: Nostalgiese Negatiwiteit. 

Tweedens, vir die res van die burgerlikes, en ek bedoel álmal, is daar ‘n plig om positief te wees. Om negatiwiteit te spaar, liewe gestrykdes, moet ons mooi dink oor ons gedagtes.

Nou hoe dink mens oor jou gedagtes? Wil ek ook weet!

Vir my sal dit wees om stil te word met ‘n heilige musiekie óf orrel óf harp wat êrens in my soos ‘n knaagdier begin wriemel. Indien jy nie een van hierdie David-se-instrumente besit nie, dring ek daarop aan dat jy in ‘n salige tuin gaan sit met ‘n baie groot bottel wyn.

Wanneer jy so drie-kwart gevorder het met jou wynbottel of musiek stuk, is dit tyd om die boek en pen nader te trek. Wie sou raai dat mens net kan dink oor jou gedagtes wanneer jy skryf?

Die idee is om vlot en rou te skryf. Geen spelreëls tel hier nie. Skryf om te skryf om te lees wat jy dink.

Okay, wanneer jy jou gedagtes bymekaar het kan jy gerus dink aan maniere om onvergenoegde omstandighede te verander. Skryf dié ook neer. Dan maak jy soos volg:

Jy besluit om in alles wat jy doen iets te vind wat jy geniet. As jy dit nie vind nie, gaan soek iewers anders.

bv. As jy rommel vir ‘n lewe verwyder dan moet jy begin soek vir skatte. Begin dink aan kreatiewe maniere hoe om te herwin. Gesels met jou buurman en knoop dalk ‘n geheime liefdesverhouding aan (verkieslik as jy nog ongetroud is).

Derdens, en hier uiteindelik my preek, onthou dat jy wel kan lysies maak om jou kop bymekaar te maak, maar die beheer van daardie lysie is nie in jou hande nie.

Spreke van Salemo 16:2-3

jy meen die pad wat jy self loop, is goed,

marrie Jirre toets dieperder binne innie bloed;

lat los nou net jou se werklikeit virrie Jirre

en jy sal gat sienie plan lyk nou sos hy moet

(uit Innie skylte vannie Jirre; 2001)