Die lewende pophuis


Jou sintuie berei waarskynlik voor vir ‘n skrikwekkende vier muur riller-huis waar houtvloere kraak onder voete van vreemdelinge, stoele vanself skuif, teddy-bere se oë beweeg en poppe se monde oopval en ‘n angstige kekkel vrylaat.

Gelukkig is ek nie hier om jou onder die bank in te jaag nie, wees gerus.

So wat dertien jaar gelede was daar ‘n gesamentlike besluit geneem om ons geliefde sandput op te vul. Ek en Boet was al groot genoeg om nie meer karretjies deur sand duine te jaag nie. Buitendien het Boet ‘n Four-Wheeler gekry waarmee hy op en af in die strate kon jaag. Die gevulde sandput was toe die perfekte platform vir ‘n pophuis vir dié groeiende dogtertjie.

Vir weke aanmekaar het ek deur brosjures geblaai en diep getob oor die perfekte huisie vir my, my popkinders en denkbeeldige man. Bittergraag het ek gewens vir ‘n huisie met ‘n stoep. Een waar ek in die oggende my tuin kon aanskou hand aan hand met manlief.  Dié stoep was toe teen besluit, juis omdat my tuin maar meestal bestaan het uit ‘n hondehok en wasgoeddraad. Daar was net nie genoeg plek vir ‘n ordentlike grote huis én ‘n stoep in die agterplaas nie.

O die verdriet.

Vanuit die kombuis venster het ek so maand of wat later aanskou hoe my wendy house gebou word. Stuk vir stuk was my huisie saam getimmer en geseël met ‘n rooi dak. Mamma het ‘n boekrak gekry wat sou funksioneer as kombuiskaste; ‘n houtstofie; ouma se rottang stoeltjies vir ‘n gr.2 se boudjies; ou, plastiek kratte met ‘n ou babadoek omruilmatras op- mooi versier met ‘n gebreide kombersie en kussinkies en als afgerond met ‘n Winnie the Pooh gordyntjie. Dit was iets om te beleef. ‘n Outentieke, organiese lewensstyl, as jy wil.huisie

Ek het die ou, wit geverfde staal tuinstel nader gedra en elke oggend tafel gedek. Daar was koffie [water] , eiers [plastiek] en hout-toast uit my hout-toaster voorgesit vir manlief en kinders. Later het ‘n fiets bygekom waarmee ek deur denkbeeldige verkeer moes haas om die kinders by die skool op in die straat af te laai. Ek was al selfs in ‘n tragiese ongeluk waar ek een kind en ‘n arm verloor het.

Ai, maar die lewe is swaar.

Toe ek laasjaar besluit het om Pretoria toe te trek was my eerste besluit op ‘n woning, ‘n tuinwoonstel. Ure lank het ek gedroom oor my hobbit-huisie wat oorgroei word met rankplante, ‘n rooi deurtjie het wat lei na ‘n magiese sitkamer wat ruik na beskuit en ‘n stoepie het vir vroeë oggend koffie.

Ek het toe ‘n ietwat mindere romantiese tuinwoonstel gevind, heel waarskynlik die ou buitekamer, maar nogsteeds mý tuinwoonstel. Alhoewel my bank nie uit rottang bestaan nie; my bed nie uit kratte en babadoek omruilmatrasse nie; my stofie nie uit hout nie (maar nog so klein); en my fiets nou bietjie meer ratte het met twee ekstra wiele, lewe ek nogsteeds in my pophuis.

Studente speel mos pop.

Ek kan laat slaap en nogsteeds ‘n teetafel dek met skonsies en eiers vir dié wat wil hê. Ek stap nog af in die straat (al is dit om nou self te gaan swot). Ek koester nogsteeds my gebreide kombersie en êrens in ‘n kas lê ‘Charlotte’ en slaap salig al haar jare om totdat my dogtertjie eendag met haar sal speel.wendy

My kommer bestaan nie. My gesprekke oor finansies en ekonomiese ondergang is nogsteeds net ‘n hele klomp sinne wat bestaan uit ‘n hele ketting woorde wat ek êrens by ‘n grootmens gehoor het.

Ek dink my pophuis groei nou saam met my. Dié jaar trek ek in ‘n groter pophuis in- een met ‘n stoep. Eendag in ‘n nóg groter pophuis- een met ‘n dubbelbed. Jare daarna dalk een met ‘n babakamer; speelkamer; spaarkamer en studeerkamer.

En al die tyd speel ek nog pop.

Advertisements

One thought on “Die lewende pophuis

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s