“Jis dis duur”


Mooi netjies geskuil onder ‘n vensterbank van my woonstel kuier perdebye heerlik om ‘n nes. Klaarblyklik het hulle koningin haar angel gevat en geloop en daarom bondel die perdebye doelloos te same totdat iemand vir hulle nes kan sorg.

Perdebye word beskryf as ‘n kombinasie tussen ‘n mier en ‘n by. Perdebye is nie ‘n mier nie, omdat hy kan vlieg en bo die grond bly. Maar ‘n perdeby is ook nie ‘n by nie, omdat hy nie so harig is, of heuning stoor nie. Perdebye, bye en miere is wel deel van die selfde voorvader: ‘Hymenoptera’.

Maar ek is nie nou besig met ‘n biologie klas nie. Wat ek wel wil bespreek, is Pretoria. Lesers in die kuberruimte: Die eerstejaars het gearriveer!

Die Universiteit was holderstebolder die afgelope paar weke met werkers wat oproer vir ‘n beter toekoms. Die eerstejaars moes begin met oriëntasie, maar dié kon nie gebeur nie. Die moedelose HK (huiskomitee) van elke koshuis het in ‘n desperate poging die eerstejaars rondgerits deur Pretoria sodat die bloeiseltjies hul milieu kan verken. Wat beteken dit vir my? Absoluut niks, behalwe dat ek my nou kan vergaap aan twee eerstejaars wat oorkant my sit in Mugg ‘n Bean. 

Ek weet Mugg ‘n Bean is teen elke Foodie se beginsels en oortree elke reël van elegante barista-koffie, maar dit is die enigste koffiewinkel in Brooklyn mall (die een waaroor Jak de Priester so nostalgies sing) waar daar nie ‘n hele gesamentlike byeenkoms van die land se honger mense is nie. Dus sit ek hier met my dúbbel-grote koffie en broodjie en aanskou die eerstejaars wat doelloos vol opwinding bymekaar bondel.

Wat is ‘n eerstejaar? 

‘n Eerstejaar is die nuwelinge wat vars gepolitoer uit matriek uit stap en hul debuut maak in studentelewe. ‘n Eerstejaar kan beskryf word as ‘n kombinasie tussen ‘n matrikulant en ‘n student. ‘n Eerstejaar is nie ‘n matrikulant nie, omdat hy/sy nou buite ‘n skoolgebou lewe en daarom simboliese vlerke het. ‘n Eerstejaar is ook nie ‘n student nie omdat hulle nog nie hulle eie ‘heuning’ vervaardig nie (watokal hierdie heuning mag wees). Neem asseblief kennis dat ‘grootmens’ nie in hierdie kategorie plaasvind nie. Ons probeer nie voorgee dat ons enigsins die stress van ‘n werkende grootmens het nie, en buitendien is ons vakansie(s) beter as hulle s’n.

Ek onthou my eerstejaar asof dit maar ‘n enkele twee jaar terug was. Heel opgewonde het ek afgereis Grahamstad toe. My lang hare was rooi gekleur vir matriekvakansie en het nog geskitter in die kwaai son van ‘n onbekende dorp. Mamma en Pappa het elke nou en dan na die enigste Mr. Price Home gehardloop om ‘n prop, kussing, kombers, waaier of een of ander hanger te gaan by koop. Ons het in ‘n kroeg geëet en my eerste aand uit was saam met vreemde, liberale, Kaapse kinders. Dit was daardie juisste aand waar ons iemand gevra het hóé hulle kan sien ons is eerstejaars. “You just know,” was sy antwoord. Hy het vinnig omgedraai en verder aan sy bier gedrink.

En nou weet ek hoekom. As dit nie vir ons Caramel Vodka en Savanna’s was wat ons verklap het nie, was dit die blink hare, kort rompies en netbal-mooi bene.

Die twee bloeisels oorkant my dra kort, denimbroekies wat geheime boud-glimlaggies elke nou en dan flits met ‘n netjiese koshuis t-hemp was ingesteek is. Hulle hare is lank en Schwarzkopf-agtig. Die naels is in ‘n stiletto-vorm gevyl. Voor hulle is suurlemoen water en ‘n bordjie chicken nuggets vanaf die kinderspyskaart bestel. Hierdie truuk is een uit die nuutste Seventeen se gesondheidsafdeling: “klein porsies by restaurante maak ‘n groot verskil.” Wat wel hierdie perdebytjies verklap het was die woorde toe hulle die rekening kry: “Jis dis duur!”. Die twee dames haal hulle beursies uit, hou maar die debietkaart uit en huiwer toe die kelner vra hoeveel hulle wil tip.

En daar stap die twee met die netbal-bene uit en ek groet die Eerstejaar in myself met liefde en heimwee en glimlag vir my derdejaar wat wag.

 

Advertisements

2 thoughts on ““Jis dis duur”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s