aan die anderkant van praat 1


Die volgende paar weke behels ‘n ondersoek in die wêreld van Afrikaans. Afrikaans het verskeie variasies, liewe leser. As jy op Muizenberg se strate loop hoor jy dinge wat in jou alledaagse gesprek met mense nooit gemerk sal gaan nie. Jy hoor woorde soos “djy” en “u” en “antie”. Hierdie klein woordjies word aanspreekvorme genoem. En daar is baie.

Aanspreekvorme is interessant. Toe ek heel eerste gehoor het van hierdie navorsingstema het ek getwyfel dat daar iets buitengewoon vir my gaan oop gaan. Ek ken van ‘het tannie nie vir my ‘n rand nie antie?’ en daarom weet ek dat sommige mense ander aanspreek op verskeie maniere. Maar min het ek besef hoeveel van ons kultuur, samelewing en persoonlikheid deur hierdie klein woordjies kan verklap word.

Ek en ‘n vriendin is veral opsoek na wat polities korrek heet as: “bruin Afrikaanssprekendes”. So toevalig het ek al ‘n hele paar blanke en swart sprekers raakgeloop wat ook só praat. Dié waarmee ek ‘n onderhoud al gevoer het, noem hulle self die ‘Kleurling gemeenskap’. Maar dié is taboe.

Soos twee katte opsoek na kwaad speur ons sprekers van hierdie variëteit op kampus na. Ons eerste onderhoud was vandag. Ek neem graag elke woordjie noukeurig hier op, en leer graag vir julle die lesse wat ek uit hierdie onderhoude leer. Ek hoop dat jy (of is dit u-hulle) ook iets hier uit sal leer oor die gestigmatiseerdes in ons gemeenskap.

Indien jy verder wil lees oor die bruin-gemeenskap wat amper verdwyn uit die diskoers van rasisme, politiek en kultuur, hier is vir jou ‘n artikel van Netwerk24.

Dag 1: soos ‘n afkop hoender

Die onderhoud is streng ingepen vir 16:00 by die KFC.

Die boodskappe wat tussen ons en die “spreker” gewissel was, het eers voorspel vir ‘n ongemaklike ontmoeting met ‘n ongewillige spreker wat nie regtig omgee oor die navorsing wat ons doen nie. Ons eerste indruk was natuurlik verkeerd.

Dit is hier waar mens besef hoe ons hele wese ingeweef is met ‘n bewussyn van ras, klas en kultuur. Ons persepsies is bewolk en reg vir ‘n ineenstorting van onkunde.

Hy was beleef. Vriendelik. Vrywillig en selfs gretig om te help met ons navorsing. Hy het besef dat die aanspreekvorme, iets so banaal soos ‘n ‘jy’ en ‘jou’, iets groter simboliseer. Hy het dit eerste geweet. Ek moes dit nog ontdek. Sy enigste rede vir die stiptelike tyd, is omdat hy nog sy seuntjie moet gaan oplaai en dan nog huistoe rits met ‘n taxi. Sy keuse van restaurant, is omdat dit net mooi netjies tussen huis en werk sit en ‘n bekende stoppunt vir taxi’s is.

Opvallend is sy wil om te verstaan en die toelating van ons onkunde. Hier sit twee blanke meisies, hiper bewis van hulle omgewing, die rit huistoe, die rit hiernatoe en O! die verkeer was ‘n nagmerrie, met ‘n man wat ons agtergrond ken, ons kan  uitpluis en verstaan dat ons ‘n wanbegrip van sy kultuur het en van hom het. Vir hom is hierdie verskille ook oraait. Dié wees in mekaar se aanwesigheid en die wil om te leer, weet en verstaan maak die woorde wat ons met hom wissel gemaklik.

Nie halfpad deur ons vraelys nie, stap ‘n ou blanke boemelaar in en kruip by die badkamer in. Vir eers nie opvallend nie, want waar anders as nie by ‘n publieke badkamer nie? Ons gaan aan met ons vragies: “Hoe sou jy ‘n swart ouer vrou aanspreek in die volgende sin?…” Hy was nog besig om te antwoord, toe die boemelaar ‘n draai verby ons tafel maak, hardop apartheids gedrewe lemmas op ons spreker uitblaker, en heel gemaklik weer by die deur uitstap.

Die twee blanke meisies se monde hang oop terwyl hulle spreker aan die giggel gaan. “Het hy nou net…?” vra die twee vir mekaar. “Hoe voel jy, oor sulke dinge, nou dat dit so toepaslik gebeur het?” wil hulle by hom weet.

“Suid-Afrika is ‘n tydbom wat wag om af te gaan, en ek wil dit net bietjie uitstel. Vir my pla dit nie. Ek moet ‘n voorbeeld vir my seun wees. Mens kan nie kwaai deur die lewe gaan nie.” Hy glimlag en vertel van sy eerste werk as juwelier, waar hy ‘n ring aan ‘n dame voorgestel het. Die klient het omgedraai, haar man gaan roep, en gesê: “herhaal nou presies net so vir Johan.” Hy herhaal toe, met hoop dat hy nou die ring gaan verkoop, toe die dame vir Johan sê:”Hoor jy hoe mooi praat die (apartheids lemma) afrikaans?” Hy het nie die ring verkoop nie.

Ek praat terloops van lemmas, omdat ek self nie die woorde wil herhaal nie. Omdat ons in Suid-Afrika nie hierdie woorde kan sê sonder om ‘n giggel van jong tieners te lok nie, en ‘n hele nasie se hartseer terselfdetyd te onthou nie.

Skaam. Ek kry skaam. Dié blanke boemelaar. Laer van klas, hoër in ras.

Ons beweeg aan met die vraelys. “Wie vind jy makliker om aan te spreek?”

“Jonger mense, natuurlik. En swart, bruin en indiër rasse. Ek ken hulle hiërargie beter as die van die blankes.”

Dis nie ongemaklik nie, want ons almal weet daar is iets anders. Nie organies en biologies anders nie, maar omdat die wêreld vir ons sê: hierdie is anders as die gewoon. Wat ek wel voel op daai oomblik- is alleen. In post-koloniale literatuur noem hulle dit “ontheemding” en “vervreemding”. Ironies- ek voel asof my reg om te identifiseer met Afrika ontneem was deur voorvaders wat verkeerde besluite geneem het, impulsief en uit vrees ander onderdruk het. My voorouers wou hulle Afrikaans en kleur en reg om vrylik te leef volgens hulle eie reëls beskerm, op ‘n land wat hulle eie ag, terwyl hulle ander ontneem van hierdie reg. En hulle nageslagte ook. Met eksklusiwiteit sluit mens nie net ander uit nie, maar jouself ook.

Botha, hier sit ek tog ek navors die verskille in Afrikaans en hoe dit deur ras en deur klas filtreer en in elke aspek van ons identiteit aanraak. Afrikaans: die taal wat ons tog bind, al is dit ook weens kolonialisme.

Hy het ons hand geskud, vinnig sy foon gegryp en gejaag om sy kind te gaan oplaai. 20 minute.

‘n Enkele 20 min om my persepsie van ‘n hele kultuur, geskiedenis en kultuurgeskiedenis te verander.

 

 

 

Advertisements

One thought on “aan die anderkant van praat 1

  1. Kontak met die joggie by die vulstasie, die kelnerin in die restaurant, die kassiere by Checkers, mense in al die kleure van ons samelewing (ampers se ek reenboognasie, maar daai cliche stoot die nausea in my keel op) het my persepsie van die kultuur van ons samelewing bevestig (en ook dat daar meer goed in ons rasseverhoudinge is as wat ons daagliks in die pers wysgemaak word)

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s