Month: June 2016

Verouderd

toque-moderno-pinturas-renascentistas-zupi-6
Deur fotograaf en kunstenaar: Romina Ressia.

Die dag wat jy amptelik Groot Word, moet sekerlik ‘n dag wees wat aangeteken word in ‘n groot, leer boek in een van daai groot, glas geboue waar net grootmense werk. Daar sal miljoene bladsye wees volgens geboortedatum. Die wat vroeër in die jaar gebore word, word eerste groot. Die wat later in die jaar gebore word, word laaste groot. Natuurlik is dit nie parallel gemeet nie. Die jaar word nie in twee eweredige 6 maande verdeel nie. Dit is baie meer kompleks. Eers ná Augustus. Eintlik eers na September: daardie kinders word later groot.

Daar is ook selfs dán ‘n paar uitsonderings. Soms dink die mense wat verantwoordelik is vir hierdie Groot Word indeling, dat ‘n sekere kind die potensiaal het om vinniger groot te word. Dan word hulle toegelaat om deel te wees van die kinders wat vroeg Groot Word. Ander kinders is bietjie jonger, dan moet hulle eers later Groot Word. Anders sukkel hulle, jy sien.

Soos wat ek kan aflei is die besluiters van ons Groot Word,’n klomp mense. Seker die skoolhowe. Hulle is slim. En definitief die juffrouens. Hulle roep die mamma’s in en sê: “ek dink jou kind kan doen met nog ‘n jaar se oefening. Dan sal hulle Groot Word.”

Volgens my word die Groot Word gemeet volgens jou ouderdom. So dit is ‘n bietjie iets om oor skaam te wees wanneer ‘n juffrou vir jou sê jy gaan nou nie meer Groot Word op jou ouderdom nie, maar op die ander kinders se ouderdom. Dis nie altyd so regverdig nie, want partykeer voel jy groter as hulle maar jy mag nie wees nie.

Daar is ‘n paar ouderdomme wat Groot Word fases merk. Die een is 6 jaar oud. Want die volgende jaar gaan jy Groot Skool toe. Toe ek, byvoorbeeld, 6 geword het, kon ek voel hoe ek groei met elke tree wat ek geneem het. Ek het vroeg wakker geword, na my ouers se kamer toe gestap, en die gang waarin ek gestap het, het soos ‘n lang rooi tapyt in die hemel gevoel, waar al die engeltjies langs die kant gestaan en hande klap het. Ek het gevoel hoe ek sentimeters langer word.

Die ander een is 13. Seker omdat jy dan nou klaar is met Groot Skool. Dan gaan jy na nóg ‘n GROTER Skool. Graad 8. Net drie jaar daarna, op 16, is jy Baie Groot. Dan kan mens begin kyk in die koerante vir fliek-tye om flieks saam met jou ou, wat jy ook dan mag hê, te kyk. Maar die kinders wat nou eers later mag grootword, moet nog ‘n jaar wag. Ek dink hulle ouers word seker ingeroep as hulle skelm ou’e het.

Dan is als op een. 18, 20, 21, 25.

Op 18 moet jy begin reg maak vir Na Skool. Dis nie soos daai waar jy rondhardloop op die veld nie. Jy hardloop nog rond, maar die keer tussen klasse. In die Groot Skool moes jy netjies aan die linkerkant, stil en fluks loop. Op 20 is jy nie meer tiener nie. Op 21 is jy nou volwasse, sê hulle. Dan kan jy trou. En op 25 moet jy al werk, want anders is daar geen kans om volwasse te wees nie. Ek weet nie, werk is dan seker soos ‘n ander Groot Word. Een wat buite die ouderdom is, maar saam met hom gemeet word. 25 = werk. Anders gaan die juffrou ook jou Mamma in roep en sê jy kort nog oefening. Maar dan is dit meer as net ‘n jaar. Want soos dit vir my klink, is jy dan amper oud.

Op 30 moes jy al kinders hê, anders kan jy nooit weer nie.

Maar, ek is nie seker wanneer mens nou eintlik Groot Word nie. Mens word ‘volwasse’ maar ek dink dit het iets te doen met geld.

Dalk het Groot Word te doen met die dag wat jy deur die koerant blaai, opsoek na die fliek-tye, en besef die fliek-tye word al vir jare nie meer in die koerant gesit nie. Alles is nou aan lyn. Dan, wanneer jy so deur die koerant blaai en lees en verstaan van die grootmens goed, soos politiek, en die popkon en slushi mis, dan is jy groot.

So groot is mis. Groot is wanneer jy begin mis toe jy klein was.

 

Foto beskikbaar by: http://www.zupi.com.br/um-toque-moderno-em-pinturas-renascentistas/

 

Afriphobia

Samuel Fosso, Le Chef qui a vendu l' Afrique aux colons, 1997:
Self-portret. Samuel Fosso, Le Chef qui a vendu l’Afrique aux colons, 1997

In matriek was ons verplig om ‘n toespraak te lewer oor Afrika. “You are Africa.” So iets wat net ‘n Departement van Onderwys kan opdink om hoop in die jeug te kweek in teenspraak met die ouers se om-die-tafel politieke pessimisme.

Ek het ‘n aanhaling gebruik van Kwame Nkrumah: “I am not African because I was born in Africa, but because Africa was born in me.”

Dit het natuurlik gegaan oor die hele ideologie van “bornfrees.” As mens lank genoeg leer oor post-koloniale teorie, dan besef mens daar bestaan nie iets soos ‘n ‘vrye generasie’ nie. Die trauma trek veel dieper as net die mense wat die oorlog ervaar het. In letterkunde bekroon hulle die ‘vrye skrywers’ die ‘tweede generasie skrywers’. As jy al ooit ‘n boek deur Adriaan van Dis gelees het, dan besef jy die trauma van een generasie, word ongelukkig oorhandig aan die tweede generasie. Wat dan ontstaan is ‘n totale warboel van fantasie oor oorlog tye, ‘n herdenking van wat was en ‘n vrees vir die mense met wie jy moet lewe wat soveel haat nog in hulle het van ‘n tyd waarvan jy maar net stories hoor.

Miskien is dit nie so heeltemal polities korrek om apartheid met die Tweede Wêreld Oorlog te vergelyk nie. Dis nooit polities korrek om enige oorlog met ‘n ander te vergelyk nie. En dit is definitief nie moreel aanvaarbaar om een ervaring teenoor ‘n ander te onderskat nie.

Wat wel ontstaan het in Afrika, na al die onstabiele politiek (om dit nou lig te stel), was ‘n vrees. ‘n Vrees vir die taal wat geassosieer word met kolonialisme, maar ook ‘n vrees vir moedertaal (alle moedertale) en om dié vrylik en sonder skroom te praat en bevorder.

Dit is niemand behalwe ons eie skuld as ‘n taal verdwyn nie. Ek glo nie ons kan dit toeken aan die EFF wat so hardhandig Afrikaans probeer versmoor nie. Ek glo nie ons kan dit toeken aan een universiteit nie. Ek dink ons moet na almal kyk en besef dit is ‘n dieper probleem as net ‘n eenvoudige taalbeleid.

Taal. Taal was ‘n straf terwyl ons die Toring van Babel probeer bou het. Mens moet begin na dink: hoekom juis taal gebruik om die bou van hierdie toring te stop? Miskien omdat die bouers ‘n totale wanbegrip gehad het van God. Nou het ons ‘n wanbegrip van mekaar.

Dit is lui om een primêre taal te kies vir onderrig in universiteite en skole. Maar dit is nie net die onderrigstelsel wat lui is nie. Ons is almal lui.

In plaas van ‘n nuwe taal aanleer, sit en kyk ons na skerms wat ons die nuutste banale inligting oor mense se lewens gee. Ons sit nie en lees ‘n ander taal, hand-in-hand met ‘n tweetalige woordeboek nie. Ons sit nie en probeer nie.

Ons het vrees vir taal. So natuurlik as wat ons kan wees, omdat die mens van die begin van dae vrees wat hulle nie ken nie.

Afriphobia is nie ‘n vrees vir een mens, een ras, of een taal nie. Dit is ‘n vrees vir kennis, vir verstaan, vir samesyn. Dit is ‘n vrees om jouself te wees en om Afrika te wees.

 

Van vermetelheid en glans

Wilma Stockenström is ‘n bekroonde skrywer in Suid Afrika. Haar oeuvre behels ‘n Afrika-blik gevul met primitiewe beelde, selfstandige vroulike karakters en folklore van menslikheid. Een van haar bundels, “Van vergetelheid en glans”, is een groot antwoord-soeke na die groot vraag: wat is die posisie van die mens in verband tot die heelal? En hierop volg ‘n paar hedendaagse gedagtes ten opsigte van die nuwe taalbeleid:

As ons nou die teenwoordigetyd wil ontleed in terme van Stockenström se oeuvre en bundel, is daar ‘n hele paar interessante vergelykings wat getref kan word. In die eerste instansie, vind ons die beskuldigde: Afrikaans. Afrikaans hier funksioneer as die selfstandige vroulike karakter wat ons veral in Die Kremetartekspedisie ontmoet. Die naamlose slaaf wat in die skuiling van ‘n uitgeholde kremetart leef en dink, het duidelike verwantskappe met ons slawe taal. Albei het nie ‘n stem nie. Albei is vry, maar afhanklik. Albei loop padjies wat blyk om terug te keer na die beginpunt.

Ons vind ook die tema van primitiewe menswese terug in die teenwoordigetyd. Hier is daar, soos in Stockenström se bundels, ‘n mate van dramatiese ironie. Die leser (of alledaagse burger) kan die kenmerke van kolonialisering terug sien in die vrye vegter, terwyl daar deur die vrye vegter gepoog word om vrede en gelykheid te stel.

Hier moet ek ook aanhaal uit Terblanche (2015) se artikel oor Stockenström:

“Die afsydigheid van Afrika, die gebrek aan kommunikasie tussen die ek en die vasteland en die aanslae wat die mens ten spyte hiervan op sy omringende wêreld geloods het, is een van die deurlopende temas van Van vergetelheid en glans.”

Vergetelheid is ‘n groot woord vir ‘vergeet’: om te vergeet. Glans skep ‘n paradoks en stel helderheid en kennis voor. Hierby kan twee interessante vergelykings getref word: om te vergeet is om helderheid te kry. Hier is ook religieuse suggestie waar die gelowige moet vergeet en vergewe om vryheid te beleef. Indien ons die EFF dan per ongeluk vervang met ‘gelowige’ sal daar vir hulle ook helderheid en kennis na vore kom. Die tweede vergelyking is vergetelheid wat nie kennis of helderheid voorstel nie. Hier is die algehele tema van Stockenström se bundel duidelik. Deur die herinnering aan geskiedkundige gebeure, soos die aankoms van die VOC aan Afrika se dorre grond, die Groot Trek en dies meer, word daar voorgestel dat herinneringe, en om te onthou van wreedagtige gebeure, tog helderheid en kennis sal voortsit omdat dit voorkom dat sulke gebeure weer sal plaasvind. Hier kan ons mos nou mooi netjies Afriforum vervang met die geskiedkundige wat ons bly herinner aan die Afrikaner se destydse politieke heerskappy soos wat die appel ons bly herinner aan die boom. Ons vind dus twee teenstrydige partye wat staan en toutrek aan ‘n paradoks en vergeet dat altwee ‘n plek in die heelal het.

Wat wel die titel van hierdie inskrywing geïnspireer het, is die kommentaar van ‘n burgerlike op die artikel van EFF-woordvoerder, Lungile Sonwabo. In hierdie artikel verduidelik Sonwabo dat Afrikaans by die Universiteit van Pretoria nie geduld sal word nie. Daar gaan dus gepoog word om alle eksamens van duisende studente te ontwrig, totdat die taalbeleid die EFF se kriteria nakom. Tog, tussendeur hierdie vermetelheid, is daar ‘n paar waarhede oor die voorgestelde taalbeleid. Die taalbeleid is ongelooflik problematies omdat dit besmet is met ‘n aantal halwe-waarhede wat as statistiese feite voorgegee word wat nie net Afrikaans te na kom nie, maar alle Afrikatale. Wat ek wel opvallend vind, is Sonwabo is teenstrydige rol as vrye vegter en kolonialiseerder. Hy praat van die “dekolonialisering” van universiteite, deur vakke soos Afrika-filosofie in te faseer, hoop hy om die Universiteit van Pretoria ‘ooper’ te maak. Bo en behalwe die feit dat ek beslis so ‘n vak sou neem, sê hy in dieselfde asem dat Afrikaans totaal uitgewis moet word. Sluit hy nie dan sy eie dekolonialiserende-vakke vir ‘n belangrike persentasie van die bevolking wat juis sou kon baat by so ‘n vak nie?

Nog ‘n laaste paradoks, voor jy gaan, en hiervoor wil ek hartelike dank aan Sonwabo en al sy mede-vegters gee: om ‘n taal te jag is om ‘n taal te koester. Laat ek verduidelik. Die dreigement dat Afrikaans nie verby die 21ste eeu sal lewe nie, is ‘n ou argument. Vir jare sit gryskop taalaktiviste om tafels en krap koppe oor die verstomende lae punte van Afrikaans op skool, die verstomende leenwoorde wat insypel in die heilige slaaftaal en die baster dialekte wat onder die mat ingevee moet word. Die kopkrap het wel onder die uitverkorenes gebly. Die res van die Afrikaanssprekendes het teruggesit en voortgegaan met ‘n luiheid wat hang soos ‘n grys wolk bo hul koppe. Maar nou, Sonwabo, is daar inspirasie. Nou is daar kole op die vuur gegooi en jy is die stoker. Die passie wat tans oor die taalbeleid deur alle vorme van kommunikasie vlam gevat het is te danke aan jou. Wanneer daar met slawetaal geteister word, kan die slawe niks anders doen as wat hulle gewoond is aan nie: veg.

My taal se geveg hoef ook nie heel voor op die grens te staan met gewere en ketties nie. Ons sal wel in die agterry kan staan en klets. En ons sal só klets dat die wat voor ons staan nie kan help om saam te praat nie. Al word ons taal ‘n baster taal van 11 verskillende tale, sal my Afrikaans bly voortbestaan. My Afrikaans sal ook nog bundels publiseer en sal ook nog boeke skryf oor ‘n selfstandige vroulike karakter wat in die holte van ‘n kremetartboom tot die einde van die mensdom en die einde van Afrika aanhou praat.

Ter nagedagtenis van Sonwabo se armsalige probeerslag:

Onthou om my te onthou, vergeet om my te vergeet.