Van vermetelheid en glans


Wilma Stockenström is ‘n bekroonde skrywer in Suid Afrika. Haar oeuvre behels ‘n Afrika-blik gevul met primitiewe beelde, selfstandige vroulike karakters en folklore van menslikheid. Een van haar bundels, “Van vergetelheid en glans”, is een groot antwoord-soeke na die groot vraag: wat is die posisie van die mens in verband tot die heelal? En hierop volg ‘n paar hedendaagse gedagtes ten opsigte van die nuwe taalbeleid:

As ons nou die teenwoordigetyd wil ontleed in terme van Stockenström se oeuvre en bundel, is daar ‘n hele paar interessante vergelykings wat getref kan word. In die eerste instansie, vind ons die beskuldigde: Afrikaans. Afrikaans hier funksioneer as die selfstandige vroulike karakter wat ons veral in Die Kremetartekspedisie ontmoet. Die naamlose slaaf wat in die skuiling van ‘n uitgeholde kremetart leef en dink, het duidelike verwantskappe met ons slawe taal. Albei het nie ‘n stem nie. Albei is vry, maar afhanklik. Albei loop padjies wat blyk om terug te keer na die beginpunt.

Ons vind ook die tema van primitiewe menswese terug in die teenwoordigetyd. Hier is daar, soos in Stockenström se bundels, ‘n mate van dramatiese ironie. Die leser (of alledaagse burger) kan die kenmerke van kolonialisering terug sien in die vrye vegter, terwyl daar deur die vrye vegter gepoog word om vrede en gelykheid te stel.

Hier moet ek ook aanhaal uit Terblanche (2015) se artikel oor Stockenström:

“Die afsydigheid van Afrika, die gebrek aan kommunikasie tussen die ek en die vasteland en die aanslae wat die mens ten spyte hiervan op sy omringende wêreld geloods het, is een van die deurlopende temas van Van vergetelheid en glans.”

Vergetelheid is ‘n groot woord vir ‘vergeet’: om te vergeet. Glans skep ‘n paradoks en stel helderheid en kennis voor. Hierby kan twee interessante vergelykings getref word: om te vergeet is om helderheid te kry. Hier is ook religieuse suggestie waar die gelowige moet vergeet en vergewe om vryheid te beleef. Indien ons die EFF dan per ongeluk vervang met ‘gelowige’ sal daar vir hulle ook helderheid en kennis na vore kom. Die tweede vergelyking is vergetelheid wat nie kennis of helderheid voorstel nie. Hier is die algehele tema van Stockenström se bundel duidelik. Deur die herinnering aan geskiedkundige gebeure, soos die aankoms van die VOC aan Afrika se dorre grond, die Groot Trek en dies meer, word daar voorgestel dat herinneringe, en om te onthou van wreedagtige gebeure, tog helderheid en kennis sal voortsit omdat dit voorkom dat sulke gebeure weer sal plaasvind. Hier kan ons mos nou mooi netjies Afriforum vervang met die geskiedkundige wat ons bly herinner aan die Afrikaner se destydse politieke heerskappy soos wat die appel ons bly herinner aan die boom. Ons vind dus twee teenstrydige partye wat staan en toutrek aan ‘n paradoks en vergeet dat altwee ‘n plek in die heelal het.

Wat wel die titel van hierdie inskrywing geïnspireer het, is die kommentaar van ‘n burgerlike op die artikel van EFF-woordvoerder, Lungile Sonwabo. In hierdie artikel verduidelik Sonwabo dat Afrikaans by die Universiteit van Pretoria nie geduld sal word nie. Daar gaan dus gepoog word om alle eksamens van duisende studente te ontwrig, totdat die taalbeleid die EFF se kriteria nakom. Tog, tussendeur hierdie vermetelheid, is daar ‘n paar waarhede oor die voorgestelde taalbeleid. Die taalbeleid is ongelooflik problematies omdat dit besmet is met ‘n aantal halwe-waarhede wat as statistiese feite voorgegee word wat nie net Afrikaans te na kom nie, maar alle Afrikatale. Wat ek wel opvallend vind, is Sonwabo is teenstrydige rol as vrye vegter en kolonialiseerder. Hy praat van die “dekolonialisering” van universiteite, deur vakke soos Afrika-filosofie in te faseer, hoop hy om die Universiteit van Pretoria ‘ooper’ te maak. Bo en behalwe die feit dat ek beslis so ‘n vak sou neem, sê hy in dieselfde asem dat Afrikaans totaal uitgewis moet word. Sluit hy nie dan sy eie dekolonialiserende-vakke vir ‘n belangrike persentasie van die bevolking wat juis sou kon baat by so ‘n vak nie?

Nog ‘n laaste paradoks, voor jy gaan, en hiervoor wil ek hartelike dank aan Sonwabo en al sy mede-vegters gee: om ‘n taal te jag is om ‘n taal te koester. Laat ek verduidelik. Die dreigement dat Afrikaans nie verby die 21ste eeu sal lewe nie, is ‘n ou argument. Vir jare sit gryskop taalaktiviste om tafels en krap koppe oor die verstomende lae punte van Afrikaans op skool, die verstomende leenwoorde wat insypel in die heilige slaaftaal en die baster dialekte wat onder die mat ingevee moet word. Die kopkrap het wel onder die uitverkorenes gebly. Die res van die Afrikaanssprekendes het teruggesit en voortgegaan met ‘n luiheid wat hang soos ‘n grys wolk bo hul koppe. Maar nou, Sonwabo, is daar inspirasie. Nou is daar kole op die vuur gegooi en jy is die stoker. Die passie wat tans oor die taalbeleid deur alle vorme van kommunikasie vlam gevat het is te danke aan jou. Wanneer daar met slawetaal geteister word, kan die slawe niks anders doen as wat hulle gewoond is aan nie: veg.

My taal se geveg hoef ook nie heel voor op die grens te staan met gewere en ketties nie. Ons sal wel in die agterry kan staan en klets. En ons sal só klets dat die wat voor ons staan nie kan help om saam te praat nie. Al word ons taal ‘n baster taal van 11 verskillende tale, sal my Afrikaans bly voortbestaan. My Afrikaans sal ook nog bundels publiseer en sal ook nog boeke skryf oor ‘n selfstandige vroulike karakter wat in die holte van ‘n kremetartboom tot die einde van die mensdom en die einde van Afrika aanhou praat.

Ter nagedagtenis van Sonwabo se armsalige probeerslag:

Onthou om my te onthou, vergeet om my te vergeet.

Advertisements

3 thoughts on “Van vermetelheid en glans

    1. hello. Ek neem aan u is onseker oor die spelling? Na vore, per ongeluk. Ooper is aspris. vasseer word fasseer gespel, ek kon dit net nog nie korrigeer nie. Jy het een gemis: suipel word sypel gespel. Kyk gerus en korrigeer die ander blog inskrywings: daar was ek nog jonger on nog dommer. Lekker dag 🙂

      Like

      1. Delia

        Dankie vir die reaksie.Ek het 40 jaar terug amptelik Afrikaans gestudeer. My vraag was met die doel om by te kom wat ek gemis het.

        Ek ondersteun die gedagte dat Afrikaans nie moet gaan vasteek nie want dan kan dit dalk werklik uitsterf in ‘n nodelose taal apartheid geveg.

        Lees gerus Tekens van die tye en Taalirritasie in my blog en laat weet wat jy dink

        Tong in die kies woordskepping ‘politiesinkorrektewaatlemoenkonfyt’

        Okkie

        Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s