Month: September 2016

Vir die wat nie kan kou nie

Maar toe weet ek nie so mooi nie, want miskien is die groen fizzer eintlik net iets om te sê ek moet nou mooi stil bly terwyl die grootseuns die werk doen. Ek moet daar sit met my Triomf boek, dou voor dag, en kyk: hier kom die nuwe Afrikaner nou. Hy dra vars gepolitoerde skoene, lemmetjie groen overalls en ‘n blink glimlag wat die son duister laat lyk.

Kultuur.

Tradisie.

Taal.

Al drie. Netjies op ‘n ry. Die beloofde land.

Toe dink ek, eintlik moet hulle versigtig wees met hulle beloftes, dit kan ‘n hele 40 jaar neem, en dan tree ons almal eintlik al af. Selfs na 40 jaar bly sommige mense maar sonder kultuur. Tradisies sal miskien weer verander het en weer terug verander het. En taal. Eintlik kan niemand van ons sê wat ons wil sê wanneer ons praat nie. Ons sukkel maar voort met ‘n klomp klanke en goed wat ons uitgorrel: Daar. Daar is my emosies nou, soos jy kan sien met die gebruik van die ‘k’ en ‘g’ klanke wat almal straf is vir die tong.

Toe verstaan hy nog nie. Hy oorhandig hierdie groen fizzer asof dit die Bybel verteenwoordig. Daarop staan die lese van die Lewe: Christelike waardes is waarvoor ons veg! Trots Afrikaans! Hier gaan ons nou! Reg voor jou oë omskep ons hierdie Torings van Babel waarin ons almal moet klas hê in plase in wat net Van Wyk Louw sal kan beskryf!

En daar, in fynskrif, as jy mooi lees, en as jy ‘n sonbril dra om die skynheilige glimlag bietjie te verdoof, dan sien jy dit: wit en bevoorreg.

Pannekoek vir Riah

Ek sien haar altyd staan met haar rooi baret, blou uniform, skelm rooi onderrok wat koekeloer en met stewige swart skoene. Haar hare kort, nooit gevleg of gestyl nie, net kort. Prakties. Sy staan by die wasbak, soms besig om te skel as ek eweskielik begin bak. Sy staan by die strykplank, besig om onderklere te vou. Dan kruip-kruip sy oor die teëls- borsel in hand besig om te skrop want die mop, sê sy, kry nie die vuilgoed uit die kraakies uit nie.

Sy was nog altyd daar. ‘n Aanwesige teenwoordigheid in die skaduwees van ‘n stil huis, besig om vuilgoed te skrop en plooie te stryk. Soms sien ek haar swaar oor die bad hang – besig om delikate materiaal tussen haar vingers te vryf. Dan spoel sy en sug soos sy haarself opstoot en loop om die klere te gaan ophang.

Riah. Ons het saam gespeel toe ek klein was. Ek in my pophuis, besig om tafel onder die wasgoeddraad te dek; my pop in haar stoeltjie; eiers en roosterbrood voorgelê vir my familie. Sy sou die muur van lakens stilweg rondom my hang. Elke nou en dan gee sy die regte ‘ooh’ en ‘ah’ van agter die muur om my goed te laat voel. Dan gaan haal sy haar kosblik en roep die tuinier, gee hom sy koffie en begin haar pap eet. Dit was vir my so lekker as ek ook pap met my vingers kon eet. Die krummels wat jou vingers kielie en deur jou hand glip tot in jou mond. Die aflek na die tyd. Sielskos.

Riah, wat altyd ons kom groet het voor sy gaan. My altyd in Zulu gegroet het, toe ek eers die taal begin leer het in laerskool. Sy het in die gang af gegiggel vir my ‘Sawubona’. Sy was natuurlik, besef ek nou, nie Zulu nie. Sy het altyd so uit haar keël gelag. ‘n Halwe lag wat erken eerder as geniet. Sy sou ook die skinderpraatjies van die buurt vir ons kom fluister by die ontbytstafel, voor sy ons beddens begin regtrek het. Dit was vir my vertel hoe Riah ons altyd tot bo in die straat gedra het, sodat ons die geraas op ‘n Dinsdag oggend kon aanskou: die Dustbinmen wat kekkel en lag en agter ‘n vragmotor wat stink aan draf.

Riah, toe ek nog klein was, oppad Durban toe vir vakansie, het ek my Pa gevra wie in die geplakte huisies langs die snelweg moet bly. Hy het skaam probeer verduidelik dat arm mense daar woon. Ek het gevra: “Pa, bly Riah ook daar?” Hy wou my net koester en het geantwoord met ‘n “nee, my kind, sy bly darem in ‘n groter huis met meer slaapkamers.” Ons het jou ook later ‘n agterkamer aangebied, maar jy wag nog vir die huis wat vir jou beloof is, en dan kan jou ma ook by jou bly.

Riah, toe ek ouer word het ek vir jou eendag van die pannekoek gegee wat ek gebak het. Jy het gevra vir die resep en ek moes die Wenresepte se Afrikaans probeer vertaal tot in ‘n Engels in wat jy sal kan verstaan. Ek het gesukkel, en foute gemaak, en somme verkeerd beredeneer toe ek die beslag vir jou wou verdubbel. Ek het geweet wat ek jou bied sal nie by die resep se titel: “Sukses Pannekoek” uitkom nie. Maar ek het gegee. Jy het so baie dankie gesê en ek sou jou nog wou wys hoe om te bak. Ek kon nie slaap daardie aand nie, in bekommernis dat jy nie als sou kon bekostig nie, of dat jy dalk nie die regte gereedskap gehad het nie. Het jy ‘n spaan? Het jou huis ‘n stoof?

Riah. Ek het vandag verdwaal tot by die posbus. Vir 4 maande hoop daar pos op, want jy het dit altyd gaan uithaal. Hier is rooi bankstate en rekeninge met ‘Riah’ op wat ek nou vashou, soos wat die telefoon nog ‘n keer lui opsoek na jou.

Ek wou nog vir jou pannekoek bring, toe jy ingesink in die hospitaal lakens vir my kyk, sonder pretensie dat ons enigsens iets in verband het met mekaar.  Maar daar was dooie bye op die trappe toe ek die eerste keer vir jou gaan kuier het. Daar was dooie bye op die trappe. En nou het ek jou pos.

Jy moet jou pos kom haal, Riah. Die mense soek jou.

 

Goue son dae

Dit lyk asof Gouelokkies in die middel van die R-21 gaan sit het. Net so: tussen Johannesburg en Pretoria het sy haar gemaklik neergevlei en besluit hiér is dit nét reg. Ek kan haar nie blameer nie, hierdie stukkie pad het altyd ‘n saligheid wat oor hom neerdaal. Om vyfuur sak die son ook goud agter Pretoria en die wêreld verander in ‘n twaalf-karaat goue ring.

Daar is net vyf-en-veertig minute tussen huis en universiteit om kop-agter-mekaar te kry voor die wemel van die week weer voortgaan. Maar die stukkie pad word aansienlik langer wanneer mens uiteindelik in Gouelokkies se teenwoordigheid in ry.

Sy is nie, soos wat mens verwag, ‘n skaam dogtertjie nie. Sy het saam met ons groot geword en pronk nou lang hare wat enige dag sal kan kompiteer met Raponsie se ewige lengte. Nee, sy is ‘n volmaakte vrou wat rus gevind het in die gemaklike. Sy wil nie noodwendig in die gesuis van ‘n stad wees nie, so sy vind dit beter hier. Vir die kronkelrige pad is hierdie stuk ook redelik plat- net ‘n brug breek die horison. Sy is ook nie so besluitloos nie. Sy weet, inteendeel, presies wat sy wil hê. Dit is maklik om die twee te verwar. Maar Gouelokkies is vir seker ‘n baie nougesette dame wat besluite neem wat haar hart gemak sal bring.

erikasternlove ♥:

Omdat die padjie so tussen die koppies slaap, is daar altyd ‘n dun windjie wat liggies aan jou motor kom tril. Die bande wieg mee, dink ek, op Theunsie se ‘gesiggie. Hoekom? Want wat anders sal vir Gouelokkies beter pas as hiérdie lied. Nie net is sy ook langs die pad ‘n mylpaal wat altyd die mure kom sloop in ons harte nie; nie net is sy ‘n mooi gesiggie nie, maar sy kry dit reg om altyd by jou te bly en daardie kort minute wat jy saam met haar deuntjie ry, te gebruik om jou reg te sis voor die volgende week se warrelwind.