Month: April 2017

Vrou op gras

Die son span hoog oor kampus. Meeste mense wat vandag besluit het om swart te dra (ter nagedagtenis van wat?) sukkel klaend voort met sweterige lywe en bedompige hoofpyne.

Ek draf-stap terug van die administrasiegebou: ‘n nietigende einde van papierwerk wat uitstaande is of dít of dát. Universiteite vind maar altyd iets kort. Maar eintlik is my Maandag nie te blou nie, en ek kry als wat ek beplan het, min of meer gedoen. Ek is oppad koffiewinkel toe: “net ‘n kleintjie, dis Maandag,” stel ek my beursie gerus.

In my stappie val my oog op ‘n ma. Sy het ‘n mamma-lyf, rond en sag met ‘n losserige rok wat oor die gras val soos sy plat onder ‘n boom sit; voete voor haar uitgespan.

Op haar skoot lê haar seuntjie saggies en drink aan haar. Sy skroom nie. Sy sit net so rustig, baba op die skoot, en gee vir hom haarself. Haar bors is styfgespan van volheid: soos die son op ‘n oop dag terwyl Johannesburg groet. Ek moes seker nie kyk nie. Miskien my kop wegdraai in eerbied. Maar dit was so mooi. So rustig. So natuurlik.

Dit terwyl ek my kop vol teorieë het oor die Afrika en Westerse leierskapsmetodes: moet ons nie maar Afrika omhels nie? Moet ons nie maar op ons knieë val en sê: “Ons het jou vir so lank eenkant toe geskuif, ‘n weeskind gemaak en neergekyk op jou”? Maar jý is die antwoord. Die moeder. Die een wat ons sal kan leer hoe om te dink vir die gemeenskap en nie net vir onsself nie. Nie net vir individualisme, of kapitalistiese gretigheid nie. Vir mekaar.

Moet ons nie maar ook drink van die moedersmelk van Afrika nie?

Advertisements

Die alomteenwoordige jare

Toe ek klein was, in die laerskool was, het my ma altyd vinnig in Pick ‘n Pay ingehardloop na skool. Langs die Pick ‘n Pay was so ou-tannie skoenwinkel met ballerina-flats. Ek het baie voor daardie venster gaan stilstaan en gedroom oor die silwer en goue skoentjies. Jy weet?  Daardie ou-tannie skoenwinkel silwer en goud.

Nou ja toe, toe word ek groot en die silwer is nie meer vir my so deftig nie.

Voor my in die ry staan die Tannie en grou in haar swaar swart handsak. Sy lê half op die trollie en prewel kla woordjies. Sy draai op eens vies om en sê: “agh jy weet, hierdie vervloekte handsak sluk alweer my selfoon in. As ek in die kar kom gooi ek sommer als uit op die sitplek. Ek smyt sommer die hele ding weg!” Agh en die ou Afrikaanse Tannie met haar blou en grys bloes is mos nou so uit ‘n volksverhaal, en ek giggel en prewel ‘n woordjie van gerusstelling.

“Corrie, wil jy koffie gaan drink?” Sy kyk na die ouma langs haar wat wasig voor haar uitkyk- hare spierwit styf om haar kop gekrul. Sy moet herhaal, en verstel die ou oortjie van die ouma bietjie harder. “Corrie! Ek vra wil jy koffie gaan drink!”

Corrie het netnou ‘n glas water gehad, sy’s reg, dankie.

Ek verstaar Ouma Corrie. Sy dra ook ‘n bloes van krapperige lap en ‘n los broek. Onder vou haar voetjies netjies in ou-tannie skoenwinkel silwer ballerina-flats en ek wonder of ek ook weer eendag dit sal wil dra, so met my sykousies.

Ek begin die trappe na my woonstel klim met al die sakke. ‘n Dogtertjie wat net een vloer bo my bly, en wie se alarm my elke oggend 5 uur wakker blêr, keer my voor.

“Hallo tannie, wat is tannie se naam en hoekom klim tannie trappe?”

Die ‘Tannie’ laat my huiwer. Moet ek haar korrigeer? Sy is seker 15 jaar jonger as ek. Hoe weet sy ek is ‘n Afrikaanse tannie? Staar sy ook vir my skoene en droom daaroor? Of dink sy al my skoentjies is walglik?

Ek antwoord maar net dat ek die trappe verkies- die huisbak kom heeltemal te vinnig by die eindpunt uit. Ek mag net sowel klim en my tyd vat.