Amagwinya


Vetkoek.

Dit klink byna belaglik om te sê ons het hierdie Desember vetkoek gemaak. Suid-Afrika vier gewoonlik kersfees net skuins voor ‘n hittegolf. Net kort ná hierdie hittegolf het ek en my ma besluit dat daar beslis vetkoek vir aandete móét wees, aangesien ons nou reeds feestelik is.

Ons huishulp was per toeval doenig in die kombuis toe ek die deeg voorberei. Victoria het haar skeptiese, uit die hoek van haar oog, kykie gegee. “Vetkoek in Zulu?” vra ek maar om die stilte te verdoof.

“Amagwinya,” en sy lag uit haar maag uit. Sy hou van vetkoek, maar sy maak dit anders.

Victoria se Amagwinya:

1kg Koekmeel

10ml Sout

30ml Suiker

1 Pakkie kits suurdeeg

750ml lou-warm water

30ml Sonneblomolie


  1. Sif die koekmeel, sout en suiker saam.
  2. Voeg die suurdeeg by.
  3. Voeg olie en water by. Meng goed. Dit moet ‘n morsige, taai deeg vorm.
  4. Plaas die deeg op ‘n oppervlakte wat góéd gestrooi is met meel.
  5. Knie, suster, knie!
  6. Plaas die deeg terug in ‘n bak wat liggies met olie gesmeer is.
  7. Plaas, volgens Victoria, verkieslik kleefplastiek oor die bak. Ek wou ‘n nat vadoek gebruik, maar die deeg klou daarteen vas. Bêre dit in ‘n warm plek en los dit vir ongeveer 30 min.
  8.  Verdeel nou die deeg en rol in eweredige balletjies.
  9. Verhit (redelik baie) olie in ‘n diep pan of pot. Die olie is die regte temperatuur as jy ‘n stukkie deeg daarin gooi, en sién hoe dit braai.
  10. Wanneer die olie verhit is, plaas twee of drie bolletjies in die olie. Die vetkoek sal so wil-wil self omdraai as dit mooi bruin is aan die onderkant. Draai die vetkoek versigtig om en braai dit aan die ander kant. Haal die gebraaide vetkoek uit en herhaal tot al die deeg op is.

Vetkoek is lekker warm én koud. Konfyt, maalvleis, kaas, of al drie opsies saam, is maar van die heerlike vulsel wat lekker proe. Ek dink mens kan selfs roomys en nutella betrek om als net nog meer sondig te maak.


Met hierdie vetkoeke in die hand het ek en Victoria heerlik gesit en gesels. Ons het gepraat oor troues, Labola, voorbehoedmiddels, Ramaphosa (sy dink hy is maar, soos alle mans, net nog ‘n Zuma – haar woorde), werk, getrouheid, haar dogtertjie wat die jaar Graad 3 toe gaan, geld, oonde, olies, verskillende meel. Oor alles het ons gesels.

Haar man is onbewus daarvan dat sy nie nog kinders wil hê nie, “Vir wat? R420 ‘n maand? In my land kry jy nie als mahala nie, ook nie kinders nie.” Sy is trots op haar werk, en om te kan werk sodat sy vir haar dogtertjie se opvoeding kan betaal. “In opvoeding”, sê sy, “lê die geheim”. En daarom moet ek wag tot 35 voor ek trou, al wil sy vir my kom werk sodra dit gebeur. Oor die uitstaande labola sê sy nie veel nie, maar hy sal eendag moet betaal. Sy werk nie verniet nie. Hy móét betaal.

Ek gaan laai haar af en sy loop na haar taxi toe. Terwyl die mans toutrek oor ‘n lappie grond en die gras intussen uit sy nate uit skeur, sal ons oormôre weer amagwinya maak en saam aan tafel ons kinders voed, Vic. Want met hierdie vetkoek sal ons ‘n nasie herbou.

One comment

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s