Vier seisoene van ‘n jaarlemoen


31230664_10155619249640945_4152340069279072256_o

 

My Oupa was maar nog net ‘n takkie toe hy as 4-jarige seuntjie agter die spatbord van die muilkar lê en slaap het.  Hier is die partikulêre onderskeiding tussen wa en kar belangrik. ‘n Kar is ‘n voertuig met twee wiele wat deur een of meer diere getrek word. Nié ‘n motor nié. ‘n Motor het vier wiele en ‘n enjin. ‘n Wa het ook vier wiele, maar geen enjin nie.

Dis nog donker, al is die son al aan die opstaan. Aan weerskante van die kar hardloop ‘n boom om en om. Elke paar myl is die boom weer daar. Dis óf dat die boom hardloop, óf die wêreld is rond. Op skool vind hy dit glad nie moeilik om te glo dat die wêreld rond is en draai nie, hy het dit mos self gesien as hulle so deksels vêr gery het. Buiten die bome, hou Klein Bennie Smit  die muile dop. Hy sien die  knieë knak elke nou en dan, maar die pote raak nooit die grond nie. Miskien, besluit hy, miskien hang hulle sommer net aan die disselboom en skop-skop so. Want vader weet geen muil sal dit vir só lank kan uithou nie.

Wanneer hulle uiteindelik in Johannesburg kom, muilkar êrens langs die pad geruil vir ‘n trein en ‘n bus, is Klein Bennie Smit al 20-jaar oud. Hy is ‘n mooi man. Lank en maer en vol truuks. Hy is ‘n brandweerman op Mayfair se Central Firestation. Hy ken die hele Johannesburg en sal jare later vir sy kleinkinders die strate oor en oor teken totdat hulle die een lang pad sién swenk. Twee stadsbeplanners het per ongeluk twee verskillende afmeetings gebruik. Die een het van die onderkant van die straat gebou, die ander van bo. In die middel, waar die twee kante bymekaar moet kom, kom hulle slegs met moeite bymekaar.

Bennie van die plaas is goeie vriende met ou Kenny Kerns. Op ‘n dag is daar ‘n nuwe offisier aan diens. Bennie vra of hy gou uit kan bel, neem die telefoon en gaan staan agter die deur van die watchtower. Hy bel. ‘n Oproep kom in. Die nuwe offisier aan diens neem die adres en lui die alarm. Almal kom afgehardloop, aangetrek en reg vir diens. Die Fire Marshal neem die papiertjie. Kyk. Kyk weer: “13 Kruisstraat! Weet jy dan nie dis jou eie adres nie, man! Bennie Smit en Kenny Kerns, kom hier!” Vet pret.

Op ‘n dag is Bennie weer aan diens. ‘n Oproep kom in van ‘n klein dogtertjie, Annatjie. Hy probeer uitvind of sy nie vir hom die adres kan gee, of die telefoonkode van hulle huis nie, maar Annatjie kan nie daar bykom om te sien nie. Sy lui naderhands af nadat sy lekker met Oom Ben gepraat het. Die volgende dag bel sy weer. Vir weke gesels hulle. Intussen het Annatjie erken sy is ‘n jong dame wat by die switchboard werk. Hulle spreek af om by die stasie te ontmoet, sy sal ‘n wit handsakkie hê, hy sal sy uniform dra. Maar toe die tyd kom, en Bennie haar sien, swenk hy weg. Sy’s te mooi. Later toe hy terugkeer stasie toe, gaan kyk hy hoe laat die trein Germiston toe vertrek. Toe hy by die trappies afloop, sien hy die wit handsakkie langs Santa lê.  Nie lank nie, toe bly hulle saam in die getroude kwartiere van die firestation. Dol gelukkig, Deon gooi sy speelgoed in sy pa se boots en Annatjie spring nog saam met haar man op wanneer die alarm afgaan in die nag. Teen dié tyd was Oupa al ‘n volgegroeide boom met ‘n hele paar jaarlemoene aan sy takke.

Die gesin trek later terug plaas toe. Dis is hier waar Heimweeberg, Barboonrandjies, Berea en Mayfair se brandweerstasies verweef in my geheue. Ek het te laat begin luister. As kind het ek altyd gaan speel as Oupa eers begin praat aan tafel. My pa moes aande om sit en luister na die stories, wat altyd met soveel erns vertel was dat dit na politiese uitsprake geklink het. Wat ek wel onthou, was hoe sy verhale begin het as ‘n klein takkie en naderhands so verweeef het dat dit lyk na ‘n swaeltjienes wat vassit in ‘n wag-‘n-bietjie boom. Daar was te veel wat hy wou vertel. Die uitleg van die brandweerstasie, die meganismes van die brandweerwa, die teater, die bok wat die een aand op die kar gedurende ‘n vertoning gepiepie het. Hy het selfs, by geleentheid, My Fairlady uit sy kop uit vertolk. Ek onthou hoe hy my by die hand vat en sê: ‘Kom’. En al bak jy koek of lees boek, gaan jy. Elke keer iets nuuts. Dan vertel hy van Eugène Marais en wýs jou die termiete. Hy lok ‘n leeumier uit sy gat, laat jou ruik aan die stink swart blom voor sy agterdeur (intussen verskuif weg van die huis af). Hy vertel jou van die wag-‘n-bietjie se mites, die bye in die dak van sy werkswinkel wat hy met ‘n tennisrakket slaan. Hy leer jou om te lag vir mense wat so trots is op hulle familiename: “Want kyk,” en hy haal sy groot familienaam boek uit, “hulle is almal afkomstig van slawe of diewe.” Een aand bel hy jou, en jy lees vir hom Totius en julle huil saam omdat Annatjie nou weg is. Dan sluk hy sy trane en julle loop weer saam en tel jaarlemoene, sade, plantjies, suurlemoene en mandjies op.

Hy was ‘n hardkoppige man, waar elke ding in sy huis ‘n plek het. Maar onder die skil was die soetse, lekkerste, vriendelikste jaarlemoen wat vir ‘n sieklike, vreemde kind ‘n houtstoeltjie sou gee, wat Sepedi met passie gepraat het, áspris gepraat het om te wýs wat liefde is. Vir hom was daar nie ras nie, daar was net mens. Daar was nie dood nie, daar was net lewe. Hy kon houtwerk doen soos min. Hy het elke boom se naam geken, elke bees se siekte, het ‘n swart mamba in die gesig gestaar, katjies bevriend, Totius gelees, Bidsprinkaan van André Brink aan tafel oorvertel. Hy was Oupa Barend (sê Bêrend nie Barend nie), my gunsteling-boommens. As ek kon, het ek sy siel in die wag-‘n-bietjie laat vassit, sodat ek elke dag onder hom kon gaan sit en net weer luister na ‘n storie.

Rus sag, Oupa Bennie Smit van die plaas. Re tla bonana gape.

562324_4580298427414_1165503854_n

 

Advertisements

One thought on “Vier seisoene van ‘n jaarlemoen

Add yours

  1. I really do enjoy reading your blogs. Though thank goodness for all those around me that I am not reading it aloud as it would sound terrible as I blunder through trying to make the Afrikaans sounds. Thank you for sharing.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: