Illusie van ‘n demokrasie

Ons is tans besig om vir die eerstejaars woordsoorte te leer. Van die voorbeelde wat onder ‘abstrakte selfstandige naamwoorde’ gebruik word, is demokrasie.

En liefde.

Per toeval is kampus dié tyd van die jaar ‘n sirkus van groen, geel en blou plakkate. Soms ‘n rooi barret wat êrens kop uitsteek tussen ‘n klomp ongeïntereseerde studente. Politiek sypel selfs in studenteraadverkiesings in hier in Suid-Afrika. Persoonlik wens ek dat ons net ‘n groep mense kon kies wat goeie leierskap vertoon, eerder as hulle verbintenis aan ‘n party, maar so ja.

Met die merk van ‘n kruisie begin ek weer nadink oor ‘demokrasie’. Die woord word deesdae soos sout oor ons gesprekke gestrooi. ‘Demokratiese reg om te stem’. ‘Jou demokratiese plig’. ”n Demokratiese verkiesing’.

Demokrasie bestaan nie. Demokrasie is abstrak- dit is wat ons dit dínk om te wees.

Ek het tussen al die sout van demokratiese gesprekke eendag my broodjie vir ‘n man op straat gegee. Hy het ‘n plakkaat voor hom met ‘n groot pikkewynagtige voëltjie opgeteken. Die voëltjie vra mooi vir kos of geld of hulp. Ek wonder of hy enige benul het dat hy ook ‘n plig het. ‘n Demokratiese stem.

Ek gee toe vir hom my broodjie. Ek het nie vandag tyd gekry om asem te haal nie, wat nog van kos eet. Hy neem die broodjie, gee ‘n briljante skitterende glimlag en sê dankie. Hy draai om, draf-stap na die verkeerslig en roep. Aangedraf kom ‘n maat. Brood word gebreek en nagmaal word daar onder die rooi, groen en geel ligte gehou.

My goeie dônner, dink ek. Dít, liewe eerstejaars, is demokrasie. Nie die kruisie wat jy dink vir jou ‘n stem gee nie. Maar die barmhartigheid van die mense wat die demokrasie opmaak en opdink. Die mag lê dan in die mense se hande. Die stem is dan in óns monde. Dan moet ons daai mag ook deel en nagmaal hou met dié wat nog minder stem het as ons. ‘n Kruisie op papier is abstrak. Mededeelsaamheid, barmhartigheid, medemenslikheid – dít is konkrete demokrasie.

 

Advertisements

Vrou op gras

Die son span hoog oor kampus. Meeste mense wat vandag besluit het om swart te dra (ter nagedagtenis van wat?) sukkel klaend voort met sweterige lywe en bedompige hoofpyne.

Ek draf-stap terug van die administrasiegebou: ‘n nietigende einde van papierwerk wat uitstaande is of dít of dát. Universiteite vind maar altyd iets kort. Maar eintlik is my Maandag nie te blou nie, en ek kry als wat ek beplan het, min of meer gedoen. Ek is oppad koffiewinkel toe: “net ‘n kleintjie, dis Maandag,” stel ek my beursie gerus.

In my stappie val my oog op ‘n ma. Sy het ‘n mamma-lyf, rond en sag met ‘n losserige rok wat oor die gras val soos sy plat onder ‘n boom sit; voete voor haar uitgespan.

Op haar skoot lê haar seuntjie saggies en drink aan haar. Sy skroom nie. Sy sit net so rustig, baba op die skoot, en gee vir hom haarself. Haar bors is styfgespan van volheid: soos die son op ‘n oop dag terwyl Johannesburg groet. Ek moes seker nie kyk nie. Miskien my kop wegdraai in eerbied. Maar dit was so mooi. So rustig. So natuurlik.

Dit terwyl ek my kop vol teorieë het oor die Afrika en Westerse leierskapsmetodes: moet ons nie maar Afrika omhels nie? Moet ons nie maar op ons knieë val en sê: “Ons het jou vir so lank eenkant toe geskuif, ‘n weeskind gemaak en neergekyk op jou”? Maar jý is die antwoord. Die moeder. Die een wat ons sal kan leer hoe om te dink vir die gemeenskap en nie net vir onsself nie. Nie net vir individualisme, of kapitalistiese gretigheid nie. Vir mekaar.

Moet ons nie maar ook drink van die moedersmelk van Afrika nie?

Die alomteenwoordige jare

Toe ek klein was, in die laerskool was, het my ma altyd vinnig in Pick ‘n Pay ingehardloop na skool. Langs die Pick ‘n Pay was so ou-tannie skoenwinkel met ballerina-flats. Ek het baie voor daardie venster gaan stilstaan en gedroom oor die silwer en goue skoentjies. Jy weet?  Daardie ou-tannie skoenwinkel silwer en goud.

Nou ja toe, toe word ek groot en die silwer is nie meer vir my so deftig nie.

Voor my in die ry staan die Tannie en grou in haar swaar swart handsak. Sy lê half op die trollie en prewel kla woordjies. Sy draai op eens vies om en sê: “agh jy weet, hierdie vervloekte handsak sluk alweer my selfoon in. As ek in die kar kom gooi ek sommer als uit op die sitplek. Ek smyt sommer die hele ding weg!” Agh en die ou Afrikaanse Tannie met haar blou en grys bloes is mos nou so uit ‘n volksverhaal, en ek giggel en prewel ‘n woordjie van gerusstelling.

“Corrie, wil jy koffie gaan drink?” Sy kyk na die ouma langs haar wat wasig voor haar uitkyk- hare spierwit styf om haar kop gekrul. Sy moet herhaal, en verstel die ou oortjie van die ouma bietjie harder. “Corrie! Ek vra wil jy koffie gaan drink!”

Corrie het netnou ‘n glas water gehad, sy’s reg, dankie.

Ek verstaar Ouma Corrie. Sy dra ook ‘n bloes van krapperige lap en ‘n los broek. Onder vou haar voetjies netjies in ou-tannie skoenwinkel silwer ballerina-flats en ek wonder of ek ook weer eendag dit sal wil dra, so met my sykousies.

Ek begin die trappe na my woonstel klim met al die sakke. ‘n Dogtertjie wat net een vloer bo my bly, en wie se alarm my elke oggend 5 uur wakker blêr, keer my voor.

“Hallo tannie, wat is tannie se naam en hoekom klim tannie trappe?”

Die ‘Tannie’ laat my huiwer. Moet ek haar korrigeer? Sy is seker 15 jaar jonger as ek. Hoe weet sy ek is ‘n Afrikaanse tannie? Staar sy ook vir my skoene en droom daaroor? Of dink sy al my skoentjies is walglik?

Ek antwoord maar net dat ek die trappe verkies- die huisbak kom heeltemal te vinnig by die eindpunt uit. Ek mag net sowel klim en my tyd vat.

Van wees op Vrouedag

Man desires a world where good and evil can be clearly distinguished, for he has an innate and irrepressible desire to judge before he understands.

– Milan Kundera-

Meerdere maal wek jy in my ‘n konstante klop van angstige haat. So neerhalend kan jy wees met die druk van warm dae, die gejaagde gemeenskap, die denkende botheid. As jy eers so opstandig raak en niks wil toelaat om net te gebeur nie; as jy so protesteer teen liberale (of is dit net menslike?) aanvaarding, bal ek ook mý vuiste en voel hoe die kwaad my maag laat knoop en die kru woorde in my drome draai met die hoop om jou môre in ‘n goeie geformuleerde argument uit te skel.

En dan, op dae soos vandag, klop jy so suutjies aan my deur voor jy jou son skyn. Jy waai jou kielie-briesie en fluister geurige liefdeswoordjies en gee geskenkies van tyd en menslikheid: ore om te luister na my gekla;  drukkies van gerusstelling; boeke van verstaan en verwoording.

Jý, die een op wie se stoep ek tuisgekom het. Jý, die een wat so dooi en opeens weer ontdooi in ‘n perste van pers blomme. Jý leer, op dae soos vandag, dat die lewe nie ‘n weghol trein is wat ek verpas het nie. Jy leer: ék is die trein, ék is die tyd, ék is vrou.

En in die vrou? Die krag van twee wêrelde wat stoei en bots en groei. Die krag van wees: van liefde vir die fyn kindjie en die geelste geel onkruid blommetjie; van haat met ‘n haat waarmee net ‘n vrou kan haat as onreg geskied – omdat die vrou wéét van terugsit en luister na die geselskap van die grootmans, of uitglip en koffie skink en koek bedien, of bekommer oor knoppe op verkeerde plekke en die ongeboorte van ‘n lewe wat ‘n houvas aan geluk sou wees.

“Agh vrou, ek kan jou nie verstaan nie.” Want jy is te groot, te veel, te áls om net een ding, een kleur van ‘n reënboog van moontlikhede, te wees.

Pa-alleen

Hy staan verleë voor ‘n ry rugsakke in die CNA. Sy klere hang te swaar en te groot aan sy lyf en sy kêps rafel uit. Die plooie trek saam oor sy voorkop en begin stadig om sy mondhoeke krul.

” As julle maar net geweet het hoe ons mense, ons swart mense, sukkel met die kinners.” Hy praat vlot Afrikaans en vra of ek die prys op een van die rugsakke kan lees.

“R100, meneer.” Sy oë trek nog meer saam. Die ander een is R350.

“Is daai ‘n Puma?” Nee. Maar Puma is baie duur.

“As ek nie Puma kry nie gaan sy nie leer nie. En sy moet leer. Sy kom net na die Ma en die Pa en sê: ‘Pappa ek soek ‘n Puma tas.’ Sy sal weet as dit nie Puma is nie.”

Wat sê mens?

Ek probeer verduidelik waar hy moontlik Puma sal kry. Probeer verduidelik waar daar Sjinese winkeltjies is wat goedkoper Pumas verkoop.

“Ons sukkel met die kinners. Sy moet leer”

My raat is om haar te laat werk vir die geld. Maar sy moet leer. Nie werk nie.

“Dankie. Ek sal gaan soek.” Hy dra swaar soos hy by die CNA uitloop en verdwyn.

 

 

 

Polonie broodjie

Dit is reënerig en koud in Gauteng. Die weerwolke maak die dag grys en yl, maar die sagte sus van druppels bring weer stille verwondering oor die Magiese wat net op tyd die nodige bied.

Ek was lus vir niks vandag nie- net boek lees en koffie drink. Ek het tog my beendere bymekaar gemaak om inkopies te doen. Net die nodigste.

Ek dwaal net deur die rye kos en drank: nie regtig oplettend na dit wat ek na opsoek is nie. Ek sus nog in by droomwêreld, vol melancholie en Kings of Leon se nuutste album. Vol angs oor wat gebeur by universiteite. Onseker oor wie se kant ek kies. Nog meer onseker oor hoekom.

Dis toe wat hy staan voor my wankelrige, klaende trollie: rooi ogies. Maer wange. Verslenterde klere.

Hy hou sy patetiese pakkie polonie na my uit. In sy ander hand hou hy ‘n bakery brood vas. Tussen ons is die yslike trollie. Ek klou instinktief na my handsak. Die bruin handsakkie wat ek in Europa gekoop het. My handsak met die los R100 noot in.

Die polonie lyk al hoe meer pateties soos ek vir dit staar. Die dun gesnyde stukkies vleis kleef aan plastiek vas.

“Please can you pay for my food”

Nou wat?

Ek kyk in sy oë in. Of kyk hy in my oë in? Hoekom staar ons vir mekaar?

Ek skraap my beste graad-1 mamma houding bymekaar en sê “nee, jammer, daar is nie geld nie.”

Hy kyk na sy broodjie. Dan draai hy vinnig om en begin verwaarloos staar na die vyf-rose tee.

God.

Ek stap aan- nog minder bewus van die kos wat ek moes koop. Ek gaan stop, grou in my handsak en gryp ‘n R10 noot. Ek draai om, maar hy is weg.

Toe ek die volgende ry in stap, staan hy op die hoek, besig om sente te tel.

Hy sien my en draai om. Die man sien my. Die man draai om van die wit dame wat met graad-1 mamma stem vir hom skel-skel nee sê.

Ek druk die noot terug in my handsak. Hy wil dit buitendien nie meer hê nie.

Toe ek uitry, sit hy op die hoek en breek sy brood, plaas ‘n stuk polonie daarin, en vat ‘n hap.

Hy kyk uit oor die pad. Die nat pad.

Man met rooi oë en verslenterde polonie.

Wat staan tussen ons?

 

Vir die wat nie kan kou nie

Maar toe weet ek nie so mooi nie, want miskien is die groen fizzer eintlik net iets om te sê ek moet nou mooi stil bly terwyl die grootseuns die werk doen. Ek moet daar sit met my Triomf boek, dou voor dag, en kyk: hier kom die nuwe Afrikaner nou. Hy dra vars gepolitoerde skoene, lemmetjie groen overalls en ‘n blink glimlag wat die son duister laat lyk.

Kultuur.

Tradisie.

Taal.

Al drie. Netjies op ‘n ry. Die beloofde land.

Toe dink ek, eintlik moet hulle versigtig wees met hulle beloftes, dit kan ‘n hele 40 jaar neem, en dan tree ons almal eintlik al af. Selfs na 40 jaar bly sommige mense maar sonder kultuur. Tradisies sal miskien weer verander het en weer terug verander het. En taal. Eintlik kan niemand van ons sê wat ons wil sê wanneer ons praat nie. Ons sukkel maar voort met ‘n klomp klanke en goed wat ons uitgorrel: Daar. Daar is my emosies nou, soos jy kan sien met die gebruik van die ‘k’ en ‘g’ klanke wat almal straf is vir die tong.

Toe verstaan hy nog nie. Hy oorhandig hierdie groen fizzer asof dit die Bybel verteenwoordig. Daarop staan die lese van die Lewe: Christelike waardes is waarvoor ons veg! Trots Afrikaans! Hier gaan ons nou! Reg voor jou oë omskep ons hierdie Torings van Babel waarin ons almal moet klas hê in plase in wat net Van Wyk Louw sal kan beskryf!

En daar, in fynskrif, as jy mooi lees, en as jy ‘n sonbril dra om die skynheilige glimlag bietjie te verdoof, dan sien jy dit: wit en bevoorreg.

Pannekoek vir Riah

Ek sien haar altyd staan met haar rooi baret, blou uniform, skelm rooi onderrok wat koekeloer en met stewige swart skoene. Haar hare kort, nooit gevleg of gestyl nie, net kort. Prakties. Sy staan by die wasbak, soms besig om te skel as ek eweskielik begin bak. Sy staan by die strykplank, besig om onderklere te vou. Dan kruip-kruip sy oor die teëls- borsel in hand besig om te skrop want die mop, sê sy, kry nie die vuilgoed uit die kraakies uit nie.

Sy was nog altyd daar. ‘n Aanwesige teenwoordigheid in die skaduwees van ‘n stil huis, besig om vuilgoed te skrop en plooie te stryk. Soms sien ek haar swaar oor die bad hang – besig om delikate materiaal tussen haar vingers te vryf. Dan spoel sy en sug soos sy haarself opstoot en loop om die klere te gaan ophang.

Riah. Ons het saam gespeel toe ek klein was. Ek in my pophuis, besig om tafel onder die wasgoeddraad te dek; my pop in haar stoeltjie; eiers en roosterbrood voorgelê vir my familie. Sy sou die muur van lakens stilweg rondom my hang. Elke nou en dan gee sy die regte ‘ooh’ en ‘ah’ van agter die muur om my goed te laat voel. Dan gaan haal sy haar kosblik en roep die tuinier, gee hom sy koffie en begin haar pap eet. Dit was vir my so lekker as ek ook pap met my vingers kon eet. Die krummels wat jou vingers kielie en deur jou hand glip tot in jou mond. Die aflek na die tyd. Sielskos.

Riah, wat altyd ons kom groet het voor sy gaan. My altyd in Zulu gegroet het, toe ek eers die taal begin leer het in laerskool. Sy het in die gang af gegiggel vir my ‘Sawubona’. Sy was natuurlik, besef ek nou, nie Zulu nie. Sy het altyd so uit haar keël gelag. ‘n Halwe lag wat erken eerder as geniet. Sy sou ook die skinderpraatjies van die buurt vir ons kom fluister by die ontbytstafel, voor sy ons beddens begin regtrek het. Dit was vir my vertel hoe Riah ons altyd tot bo in die straat gedra het, sodat ons die geraas op ‘n Dinsdag oggend kon aanskou: die Dustbinmen wat kekkel en lag en agter ‘n vragmotor wat stink aan draf.

Riah, toe ek nog klein was, oppad Durban toe vir vakansie, het ek my Pa gevra wie in die geplakte huisies langs die snelweg moet bly. Hy het skaam probeer verduidelik dat arm mense daar woon. Ek het gevra: “Pa, bly Riah ook daar?” Hy wou my net koester en het geantwoord met ‘n “nee, my kind, sy bly darem in ‘n groter huis met meer slaapkamers.” Ons het jou ook later ‘n agterkamer aangebied, maar jy wag nog vir die huis wat vir jou beloof is, en dan kan jou ma ook by jou bly.

Riah, toe ek ouer word het ek vir jou eendag van die pannekoek gegee wat ek gebak het. Jy het gevra vir die resep en ek moes die Wenresepte se Afrikaans probeer vertaal tot in ‘n Engels in wat jy sal kan verstaan. Ek het gesukkel, en foute gemaak, en somme verkeerd beredeneer toe ek die beslag vir jou wou verdubbel. Ek het geweet wat ek jou bied sal nie by die resep se titel: “Sukses Pannekoek” uitkom nie. Maar ek het gegee. Jy het so baie dankie gesê en ek sou jou nog wou wys hoe om te bak. Ek kon nie slaap daardie aand nie, in bekommernis dat jy nie als sou kon bekostig nie, of dat jy dalk nie die regte gereedskap gehad het nie. Het jy ‘n spaan? Het jou huis ‘n stoof?

Riah. Ek het vandag verdwaal tot by die posbus. Vir 4 maande hoop daar pos op, want jy het dit altyd gaan uithaal. Hier is rooi bankstate en rekeninge met ‘Riah’ op wat ek nou vashou, soos wat die telefoon nog ‘n keer lui opsoek na jou.

Ek wou nog vir jou pannekoek bring, toe jy ingesink in die hospitaal lakens vir my kyk, sonder pretensie dat ons enigsens iets in verband het met mekaar.  Maar daar was dooie bye op die trappe toe ek die eerste keer vir jou gaan kuier het. Daar was dooie bye op die trappe. En nou het ek jou pos.

Jy moet jou pos kom haal, Riah. Die mense soek jou.